Atlete van die Noordwes-Universiteit (NWU) het oudergewoonte hulle stemme tydens die onlange Suid-Afrikaanse Senior Atletiekkampioenskap dik gemaak en die NWU se trofeëkas bars weer uit sy nate.
Dié kompetisie is van 15 tot 17 April in Pretoria gehou.
Atlete van die NWU het altesaam 21 medaljes ingepalm, met agt goue, vier silwer- en nege bronsmedaljes. Dan is daar ook ses persoonlike beste prestasies en vier beste prestasies vir die seisoen opgestel.
Atlete wat goud gewen het, is Joné Kruger (verspring, 6,36 m), Jo-Ané van Dyk (spiesgooi, 59,47 m), Marga Cumming (hamergooi, 64,30 m), Riëtte Heyns (diskus 55,32 m), Alan Cumming (hamergooi, 72,78 m), Tiaan Kleynhans (110 mH, 13,62 m), Zak Nene (400 m, 45,54) en Mpho Links (hoogspring, 2,15 m).
Silwer: Meanri Erasmus (20 km-stap, 1:54:43), Johann Grobler (spiesgooi, 80,32 m), Valco van Wyk (paalspring, 5,30 m) en Ignatius Marais (diskus, 53,61 m).
Brons: Nadja Fourie Pole (paalspring, 3,50 m), Michelle Ngozo (hoogspring, 1,70 m), Annette Koen (20 km-stap, 1:56:53), Antonio Farmer (20 km-stap, 1:34:10), Carel Haasbroek (hamergooi, 70,53 m), Arend Pretorius (paalspring, 4,60 m), Lente Pieterse (400 m, 53,70), Pieter Conradie (400 m, 46,29 m) en Luan Munnik (1 500 m, 3:45,23).
“As provinsie het Noordwes sowat 30 medaljes verower waarvan die NWU vir die oorgrootte meerderheid verantwoordelik was. Dit plaas dinge in perspektief, en wys dat ons atlete fenomenaal was. Dit was ʼn ongelooflike SA’s met soveel wêreldklasprestasies. Tiaan Kleynhans in die 110 m-hekkies was van wêreldgehalte, en so ook Zak Nene in die 400 m. Dan is daar ook die twee spiesgooiers – Jo-Ané van Dyk het ʼn persoonlike beste behaal en vir die eerste keer in haar loopbaan met Sunette Viljoen afgereken. Dit spreek boekdele. Sunette is ʼn Olimpiese silwermedaljewenner. Johann Grobler, wat ʼn afstand van 80,32 gehaal het, val ook in hierdie klas,” sê Terseus Liebenberg, die NWU se atletiekbestuurder.
“Die prestasies wat uiters insiggewend oor waar ons staan. Ons sien baie uit na die USSA’s in middel-Mei. As ’n mens na die uitslae kyk, sal jy sien dat Gauteng-Noord – dit is nou Tukkies – baie diepte het. Maar ons is reg vir die strawwe kompetisie tussen ons, Tukkies en UJ. ’n Mens kan ook nooit vir Kovsies buite rekening laat nie. Ons atlete lyk goed, hulle is goed op dreef, en die verskeie afrigters het ongelooflike werk met hulle gedoen,” verduidelik Liebenberg.
Daarbenewens maak hy melding van al die kreatiewe werk wat die afrigters tydens die nasionale inperking gedoen het om die atlete slaggereed vir kompetisie te kry.
“Baie eer moet aan hierdie afrigters gaan wat die atlete positief en entoesiasties gehou het. Laastens wil ek net weer noem dat ons ongelooflik trots op ons atlete is. Daar is ook ʼn paar atlete wat medaljes net-net misgeloop het.”