Om verplig te voel om navorsing te doen en om dankbaar te wees. Dit is hierdie sentimente waaraan prof Susan Coetzee-Van Rooy, navorsingsprofessor aan die Noordwes-Universiteit (NWU), dink wanneer sy praat oor die B2-gradering wat sy van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) in 2022 ontvang het.
Prof Coetzee-Van Rooy is ’n NWU-getoë vakkundige met ’n B-gradering in tale – veral meertaligheid. Haar prestasierekord bewys dat met die regte ondersteuning en leiding, vakkundiges in die geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe by ons instelling hulle graderings kan verkry, handhaaf en stelselmatig verbeter.
Sy is ’n navorsingsprofessor in die fokusarea Verstaan en Verwerking van Taal in Komplekse Omgewings (UPSET) by die Fakulteit Geesteswetenskappe. Dit is die ideale konteks vir haar werk om ’n beter begrip te kry van die aard van meertaligheid onder Suid-Afrikaners en in lande regoor die wêreld.
“Suid-Afrikaanse meertaligheid bestaan al baie lank en is uniek as gevolg van die omvang en vorm daarvan,” sê prof Coetzee-Van Rooy.
“Die wêreld het eers onlangs bewus geraak van die voordele daarvan om oor die algemeen meertalig te wees. Ek is dankbaar dat ek uit ’n Suid-Afrikaanse perspektief ’n bydrae tot die begrip van hierdie belangrike eietydse verskynsel kan lewer, waar om meertalig te wees die algemene situasie in die land is.”
Goeie advies
Volgens prof Coetzee-Van Rooy het die insig en ondersteuning van haar man, prof Bertus van Rooy (ook ’n B2-gegradeerde vakkundige) ’n groot verskil op hierdie reis gemaak.
“Bertus was die eerste direkteur van UPSET en het die toon aangegee vir navorsingsrigtings in die groep. Sy eenvoudige raad was om te fokus op ’n belangrike navorsingsonderwerp wat ’n wetenskaplike, samelewings- en persoonlike relevansie het, en om gereeld navorsing van ’n hoë gehalte in hoog aangeskrewe publikasies te publiseer.”
Van die nuttigste advies wat Bertus haar gegee het, is om elke twee jaar twee maande lank op ’n gefokusde manier te werk om datastelle te ontleed en publikasies daaruit voor te berei. “Hierdie eenvoudige strategieë het daartoe gelei dat my NNS-graderings met verloop van tyd in stand gehou en verbeter is. Dieselfde advies het ook vir vakkundiges in UPSET en die Fakulteit Geesteswetenskappe gewerk,” sê prof Coetzee-Van Rooy.
Graderings wat verbeter
Sy was een van die eerste groep navorsers in die geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe wat in 2002 NNS-graderings ontvang het toe sy ’n Y2-gradering ontvang het. Haar skoonpa, Herrie van Rooy, het ook op daardie stadium sy eerste gradering ontvang. Hy is ’n afgetrede navorsingsprofessor van die NWU en tans ook ’n B-gegradeerde vakkundige. Prof Coetzee-Van Rooy het in 2010 ’n C2-gradering en in 2016 ’n C1-gradering ontvang.
Sy sê haar graderingsgeskiedenis is ongewoon, aangesien die meeste vakkundiges in die geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe nie maklik vanaf ’n Y2- na die C-kategorieë vorder nie. “Ek glo dat die NNS-graderingsproses die opset vir vakkundigheid in die geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe verander het, en ek is ’n ondersteuner van die proses, aangesien dit gefokusde navorsing van ’n hoë gehalte op ’n deurlopend betrokke manier aanmoedig.
“Ek is nie spesiaal nie. As ek kan ’n gradering kan verkry en in stand hou, kan enige verantwoordelike en toegewyde vakkundige in die geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe dit ook doen,” sê prof Coetzee-Van Rooy.
Sy het in die tydperk 2014 tot 2021 as lid en sameroeper van die NNS se wetenskaplike komitee vir Letterkundige Studies, Tale en Linguistiek gedien, as voorsitter van die NNS se evaluerings- en graderingspaneel, asook as lid van die uitvoerende evalueringskomitee (UEK).
In 2021 het die HUB van die NNS, dr Gansen Pillay, prof Coetzee-Van Rooy se bydrae tot die NNS se evaluering en graderingspanele en die UEK geloof. Hy het haar uitgesonder vir haar deeglikheid, toewyding, vasberadenheid en insiggewende en konstruktiewe betrokkenheid “wat ons in staat gestel het om besluitneming te vereenvoudig”.
“Een van die vervullendste aspekte van my huidige werk by die NWU is om alle vakkundiges in die geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe vir NNS-graderingsaansoeke voor te berei,” sê sy.
Meer oor die navorser
Prof Coetzee-Van Rooy is in Potchefstroom gebore en het daar grootgeword en gee erkenning aan die rol van haar vader, Hansie Coetzee, wat ruimte geskep het in die gesin om moeilike gesprekke te voer. Hansie was ’n interne ouditeur by die NWU en het sy kinders geleer om te vertrou, maar om te kontroleer. Hierdie benadering het vanaf ’n jong ouderdom by haar ’n navorsingsingesteldheid geskep.
Sy het in die veilige ruimte wat haar gesin geskep het, vrae gevra, inligting gevind en geëvalueer, en ’n bewese en persoonlike beskouing na besprekings toe gebring, waar sy en haar pa dikwels nie saamgestem het nie. “Hierdie benadering tot inligting wat deur my pa aangemoedig is, was ’n uitstekende voorbereiding vir my om die verpligting te hê wat alle navorsers moet hê: hou aan om fundamentele vrae te vra om empiriese antwoorde op hierdie vrae te kry,” sê prof Coetzee-Van Rooy.
Na haar mening kan die belangrikheid van ’n ondersteunende gesinsomgewing in die ontwikkeling van navorsingsgeoriënteerde mense nie oorbeklemtoon word nie. Sy bly dankbaar teenoor haar gesin vir hulle ondersteuning.
Prof Susan Coetzee-Van Rooy