NWU-akademici word deel van gesogte OBU-genootskapsprogram

Die akademici van die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n welverdiende reputasie vir kundigheid, harde werk en toewyding. Dit is weer eens duidelik by twee dosente wat vir die gesogte Suid-Afrikaanse Onderrigbevordering by Universiteite-genootskapsprogram (OBU-genootskapsprogram) gekies is.

Dr Misheck Dube van die Skool vir Psigososiale Gesondheid en dr Cornelia Schreck van die Skool vir Menslike Bewegingskunde, albei van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, doen die NWU hierdie eer aan.  Hulle sluit aan by die geledere van gerespekteerde akademici van alle Suid-Afrikaanse universiteite en hulle NWU-eweknieë wat deur die jare aan die OBU-genootskapsprogram deelgeneem het.

 

Hulle sê dat hulle geëerd voel dat hulle vir die OBU-genootskapsprogram van 2022/23 gekies is. Dr Dube en dr Schreck sal deelneem aan die vierde siklus van die program, wat in Julie hierdie jaar begin. Hulle sal die geleentheid kry om by die beste navorsers en dosente in Suid-Afrika te leer hoe om onderrigpraktyke te bevorder en ook om hulle eie kundigheid te deel.

 

Dr Dube sê dat die OBU-genootskapsprogram maatskaplik billike vakkundige onderrig- en leer wil bevorder. “Die program bied ’n uitstekende geleentheid en platform om relevante vakkundige onderrig en leer te herdefinieer en te bevorder.”

 

Hy glo dat dit doeltreffend tot die transformasie van die hoëronderwyssektor bydra, en hom in staat sal stel om deur middel van sy navorsingsprojek in opvoedkundige ontwerp ’n agent vir verandering en ’n leier te wees.

 

“Die hoëronderwysopset of ‑konteks is besig om te verander, veral met uitdagings wat na vore kom, byvoorbeeld die Covid-19-pandemie en ander wêreldwye stresfaktore soos werkloosheid, massifikasie (om onderwys na ’n massagehoor te neem) en die behoefte om die kurrikulum met 21ste-eeuse eise te belyn.

 

Dr Schreck beaam dat om as ’n OBU-genoot gekies te word, ’n wonderlike manier is om die nuwe jaar te begin. “Ek is reeds die afgelope veertien jaar ’n dosent by die ontspanningsprogram aan die NWU. Ek het in hierdie tyd nie net my kennis en ervaring van onderrig in hoër onderwys ontwikkel nie, maar het ’n passie ontwikkel om my studente te onderrig.”

 

“Vakkundigheid van Onderrig en Leer is die navorsingsfokusarea waarop ek my loopbaan bou. Ek glo dat om deel te wees van die OBU-genootskapsprogram my nie net met nuwe kennis, vaardighede en netwerke sal toerus nie, maar ook aan my die geleentheid sal gee om die vakkundigheid van onderrig en leer aan die NWU uit te brei en as sleutelrolspeler binne die veld op te tree.”

 

Meer oor die OBU-genootskapsprogram

 

Die OBU-genootskapsprogram wil ’n bydrae lewer tot die bevordering van onderrig en leer in hoër onderwys in Suid-Afrika deur die ontwikkeling van akademici as vakkundiges, leiers en mentors op hulle gebiede oor instellings en dissiplines heen te ondersteun.

 

Dit bevorder ook die status en statuur van onderrig en maak die begrip van onderriguitnemendheid in ’n verskeidenheid institusionele en dissipline-spesifieke omgewings gewild.

Daar word van OBU-genote verwag om ’n seminaar of werkswinkel oor onderrig by hulle eie instelling aan te bied, en tydens een van vier kontakgeleenthede daaroor verslag te doen. Hulle sal ook met lede van hulle OBU-streeksgroep skakel, en met die ondersteuning van die OBU vir die duur van die program aan ’n individuele projek werk.

Hulle projekte moet reageer op ’n onderrig- en leer-uitdaging wat elke deelnemer in sy eie institusionele omgewing moet identifiseer.

Om meer oor die OBU-genootskapsprogram uit te vind, besoek https://taufellowships.org.za

 

 

....

Dr Cornelia Schreck

....

Dr Misheck Dube

Submitted on Mon, 01/31/2022 - 11:13