Nuwe NWU Innovasiegenootskap aan innoveerder in Chemie toegeken

Deur Vukosi Mathale

Die Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuningskantoor (TTIS-kantoor) het aan ’n senior lektor in Chemie, dr Frans Smit, die 2023 NWU Innovasiegenootskap toegeken. Die NWU Innovasiegenootskap-program is ’n nuwe inisiatief van die TTIS wat ’n geleentheid wil bied aan NWU-navorsers en akademici wat aan die begin van hulle loopbane staan, om hulle entrepreneurskundigheid uit te brei. Die oorkoepelende doelwit van die Innovasiegenootskap is om ’n kultuur van innovasie aan die NWU te vestig en ’n nuwe groep akademici en innoveerders te ontwikkel wat gefokus is op die generering van oplossings wat ’n breë impak in die samelewing kan hê.

Dr Janine Chantson, TTIS se hoofdirekteur, beklemtoon dat innovasies wat voortspruit uit navorsing wat aan die NWU gedoen word, tot ’n tasbare impak op die samelewing en ekonomie kan lei wat verder as tradisionele akademiese uitsette strek.

“In die ontwikkeling van innovasies wat in die mark opgeneem kan word, onderneem navorsers ’n verskeidenheid take, soos om met marknavorsing te help, insette in die ondersoek van patente te verskaf en die innovasie te bemark. Hierdie take ontvang dikwels nie erkenning as dat dit “kernbelangrik” vir hulle rol is nie. Die NWU Innovasiegenootskap is ’n manier om entrepreneursnavorsers aan te spoor om aan tegnologie-oordragaktiwiteite deel te neem,” verduidelik dr Chantson.

Dr Smit het met ’n PhD in Farmaseutiese Chemie gegradueer en sy postdoktorale genootskap aan die NWU voltooi. Sy huidige navorsing is gefokus op die organiese chemiese sintese binne die fokusarea vir Chemiese Hulpbronveredeling (CHV), waar hy ook ’n groepleier van die groep vir katalise en sintese is.

Toepassings- en seleksiekriteria vir die Innovasiegenootskap sluit die indiening van ’n innovasie of oplossing in wat ’n onopgeloste probleem met duidelike kommersiële potensiaal hanteer. Dr Smit het ’n nuwe surfaktant-tegnologie ingedien wat hy saam met sy CHV-kollegas ontwikkel het. Die TTIS het hulle alreeds gehelp om vir ’n patent vir hierdie tegnologie aansoek te doen. Dr Smit sal met sy uitvinding en innovasie ’n verskeidenheid probleme oplos wat onder andere met landbou en hernubare energie verband hou.

“Hierdie prestasie onderstreep die waarde van innovasie en motiveer ons om selfs harder te werk om sukses te behaal en ’n impak op die samelewing te maak. Ons innovasie het die potensiaal om ’n beduidende positiewe impak op die samelewing te hê. Ons hanteer kritieke probleme in landbou en hernubare energie deur baanbrekende surfaktant- en sonkragtegnologieë te gebruik om sodoende ’n groener en meer volhoubare toekoms te bevorder. Ons missie is om die opbrengs van oeste te verhoog, omgewingsimpak te verminder, en die wêreldwye verskuiwing na skoner energie te bevorder deur landbouchemikalieë te verbeter en sonpaneeldoeltreffendheid te verhoog. Die genootskap sal ons help om die voordele van innovasie vir die samelewing te vermeerder,” verduidelik dr Smit opgewonde.

Tydens die ses maande van die genootskapstydperk sal dr Smit twee dae per week by die TTIS-kantoor deurbring om te fokus op tegnologie-oordragaktiwiteite wat met sy innovasieprojek verband hou. Hierdie reëling sal help om ’n produktiewe atmosfeer vir noue samewerking met die TTIS-span en met sy mentor buite sy gewone laboratorium- en kantooromgewing te kweek.

Met die verwelkoming en ondersteuning wat dr Frans Smit as die eerste ontvanger van die NWU Innovasiegenootskap ontvang, begin die TTIS met ’n reis van transformatiewe innovasie, waar kundigheid en passie bymekaarkom om ’n toekoms van oplossings te skep wat verder as die akademie strek en die samelewing bemagtig. Ontdek nog meer: https://services.nwu.ac.za/technology-transfer-and-innovation-support/h….

....

Dr Frans Smit, ontvanger van die eerste NWU Innovasiegenootskap.

Submitted on Mon, 08/28/2023 - 10:14