Nuwe lede van die NWU Besigheidskool se adviesraad

Dit is ’n groot eer om die volgende individue geluk te wens met hulle onlangse verkiesing as lede van die adviesraad van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool.

Jeremy Sampson is tans die besturende direkteur van Brand Finance Africa, die Londen-gebaseerde wêreldwye groep met ’n teenwoordigheid in 20+ lande (hulle spesialiseer in die waardebepaling van handelsmerke en die meting van ’n handelsmerk se sterkte en reputasie). Daarbenewens doen hy konsultasies, is ’n mentor, gee advies, skryf en hou toesprake. Hy is baie aktief in die media, insluitende om programme vir Classic fm aan te bied en elke week (sedert Januarie 2018) The Brandfather op Classic Business te hanteer. Jeremy se loopbaan sluit in dat hy in Londen en Johannesburg in bemarking, reklame, grafiese ontwerp, openbare betrekkinge, reputasiebestuur en handelsmerkgewing gewerk het.

Hy het reeds talle toekennings in die VK, die VSA en Suid-Afrika gewen. Hy het in 2010 die gesogte Financial Mail AdFocus-leeftydprestasietoekenning gewen, die enigste handelsmerkgewer/ontwerper wat hierdie prestasie, wat gewoonlik vir die reklamegroep opsy gesit word, behaal het. Benewens die wêrelde van reputasie, handelsmerke en handelsmerkgewing, sluit sy belangstellings fotografie, kuns en die maak van afdrukke, asook die wynwêreld in, vir wie hy al talle artikels geskryf het.

As tradisionele leier is Kgosi Moshe Mabe geen vreemdeling wat die vervulling van belangrike rolle betref nie. Hy is vir drie agtereenvolgende termyne as die voorsitter van Noordwes se provinsiale huis van tradisionele leiers gekies. Sy leierskap strek oor 20 jaar as Kgosi van Batlhako Ba Matutu in Mabeskraal. Hy het as lid van die Invest North West-direksie gedien en was drie jaar lank die voorsitter van Noordwes se provinsiale erfenisagentskap. Ons is seker dat sy ervaring vir ons baie nuttig sal wees.

Volgens prof Jan van Romburgh, hoofdirekteur van die NWU Besigheidskool, het die adviesraad nog altyd ’n deurslaggewende rol in die bevordering van die reputasie, gehalte en hoë standaarde van die Besigheidskool gespeel. “Ons sien uit na die raad se voortgesette harde werk en inisiatiewe. Ek wil graag hierdie twee lede hartlik gelukwens en vir hulle sterkte met hulle nuwe take toewens. Ons verwelkom hulle insette, wat op hulle kennis en ervaring gegrond is, maar ons waardeer veral die toewyding en passie wat hulle vir die NWU Besigheidskool het,” sê hy.

Die adviesraad bied leierskap en advies ten opsigte van die doeltreffende en effektiewe bestuur van die skool:

  • Deur te help om brûe tussen die Besigheidskool en die sakegemeenskap te bou.
  • Deur die nuwe strategiese plan van die skool te evalueer en oor die implementering daarvan terugvoer te gee.
  • Deur die jongste insette oor veranderende opleidings- en ontwikkelingsbehoeftes te verskaf.
  • Deur die finansiële strategie van die skool te evalueer.
  • Deur die onderhandelings- en promosieprosesse van die skool te ondersteun.
  • Deur advies te gee oor beste praktyke in onderskeidelik die sakeomgewing en die besigheidskoolomgewing.

Submitted on Thu, 03/18/2021 - 14:04