Nuwe gemeenskap van praktyk Cop-ROOI gaan die vasteland vorentoe neem

Samewerking is die sleutel indien Afrika sy potensiaal wil bereik. Die Navorsingsuitset, Uitkomste en Impak Gemeenskap van Praktyk (Research Output, Outcomes and Impact Community of Practice, Cop-ROOI) is op 19 Oktober by die OR Tambo Premier Hotel in Johannesburg deur die Noordwes-Universiteit (NWU) in samewerking met die Suider-Afrikaanse Navorsing en Innovasiebestuursvereniging (SARIMA) gestig om hierdie doel te help bereik.

Cop-ROOI verteenwoordig ’n groep administrateurs, bestuurders, bestuurskundiges en ander mense in navorsing en innovasie wat maatskaplike kapitaal wil ontwikkel, nuwe kennis wil bevorder, innovasie wil stimuleer en kennis oor die bestuur van navorsingsuitsette en -impak wil deel.

“Dit is ’n baie belangrike inisiatief, nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir Afrika as geheel. Die rigting wat die wêreld inslaan, is om te kyk na die impak wat navorsing het. Die tyd is dus verby toe navorsing ter wille van die doen van navorsing uitgevoer is, met gepubliseerde referate wat in biblioteke en argiewe ophoop. As instelling wil ons wys dat ons verantwoordelik is en dat ons leiers is om te verseker dat navorsers, navorsingsbestuurders en navorsingsadministrateurs almal verstaan dat daar ’n behoefte is om aan oplossings te werk wat sal help om ’n impak in ons wêreld te maak. Dit is vir beide die NWU en SARIMA ’n mylpaal,” sê prof Nnenesi Kgabi, direkteur vir Navorsingsondersteuning aan die NWU en die leier van Cop-ROOI.

Prof Emelia Alfonso Nhalevilo, verkose voorsitter van SARIMA, het uitgebrei oor die belangrikheid daarvan om intellektuele hulpbronne en kreatiwiteit te benut wat vir volhoubare groei noodsaaklik is.

“Ons moet ons beste praktyke deel en by mekaar leer,” sê sy, en voeg by dat dit een van die maniere is om die vasteland na ’n volhoubare toekoms te stuur.

Prof Eme Owoaje, algemene sekretaris van Wes-Afrika se bestuursvereniging vir navorsing en innovasie (West African Research and Innovation Management Association, WARIMA), verduidelik dat dit noodsaaklik is om navorsing te doen wat meer is as wat net vir navorsers belangrik is: “Ons moet relevant wees, ons kan nie in silo’s sit nie. Ons moet relevante kwessies soos behuising en klimaatsverandering hanteer. Ons het 54 lande in Afrika wat met mekaar moet praat. Ons het soortgelyke probleme, soos hoe gaan ons onderwys en landbou verbeter? Ons is gereed om saam te werk.”

Dit is met inisiatiewe soos Cop-ROOI dat die NWU voortgaan om ’n leidende rol te speel om kundigheid bymekaar te bring wat ’n verandering kan teweegbring wat ’n impak maak en blywend is.

....

Prof. Nnenesi Kgabi, direkteur van Navorsingondersteuning en Cop-ROOI-leier.

Submitted on Wed, 10/25/2023 - 10:22