Nuwe forum om gemeenskappe betrokke te kry, is volstoom aan die gang

Die plasing van studente in gemeenskapsdiensposisies is ’n topprioriteit vir die pasgestigte Gemeenskapsbetrokkenheid-belanghebbersforum van die Noordwes-Universiteit (NWU).

“Ons is almal baie opgewonde oor die nuwe forum. Die doel is om wedersydse verhoudings met ons gemeenskappe te vorm en ’n databasis te ontwikkel van belanghebbers wat by die NWU betrokke is, veral met die doel om studente in gemeenskapdiensposisies te plaas,” sê Bibi Bouwman, direkteur vir volhoubaarheid en gemeenskapsimpak.

Die forum is ook deel van die proses om meer inklusief te wees en die strategie van betrokkenheidsonderrig en  leer deur diensleer en die gebruik van “wetenskapswerkswinkels” te ondersteun. Dit bied aan burgerlike groepe gratis of baie goedkoop toegang tot wetenskaplike en tegnologiese kennis.

Drie bekendstellingsvergaderings is gehou om te konsulteer met plaaslike belanghebbers wat by elke NWU-kampus betrokke is. Hierdie vergaderings het onderskeidelik op 19, 20 en 21 Julie by die Vanderbijlpark-, Potchefstroom- en Mahikengkampusse plaasgevind.

Die vergaderings is bekendgemaak deur ’n persvrystelling, wat aan al die plaaslike nuuskanale gestuur is en op die NWU se webwerf en interne daaglikse kommunikasiemedia gepubliseer is.

Daar was geen beperking oor wie aan die forum mag deelneem nie, ongeag of hulle reeds deel van ’n projek is wat deur ’n fakulteit bedryf word. Trouens, fakulteits- en studente-uitreikprojekte word aangemoedig om hulle gemeenskapsvennote by hierdie forum te betrek.

“Dit is ’n wonderlike geleentheid vir al ons vennote om te leer hoe die universiteit bedryf word en wat sy doelstellings is, en wat die grense van ons samewerking is,” sê Bibi.

“Ons gesamentlike doelwit is om noodsaaklike vennootskappe te identifiseer en befondsing te verkry om te verseker dat ons gemeenskapsbetrokkenheidsinisiatiewe floreer en om ons vennootskappe meer volhoubaar te maak.”

Daar was nie besonder baie mense by die aanvanklike vergaderings nie, hoewel die diversiteit van die groepe vir die gebrek aan getalle vergoed het. Plaaslike radiostasies sal in die toekoms gebruik word om groter getalle van die gemeenskapslede te bereik en die NWU sal ook die opsie ondersoek om virtuele vergaderings en vergaderings van aangesig tot aangesig te ondersoek. 

“Ons sien uit na ’n goeie vennootskap met ons gemeenskappe, en ons is dankbaar vir enige ondersteuning, hetsy in die vorm van donasies, hulpbronne of netwerke om die uitdagings te hanteer wat ons gemeenskappe ervaar,” sê Bibi.

“Wetenskapswerkswinkels bied aan burgerlike groepe (die gemeenskap) gratis of laekostetoegang tot wetenskaplike en tegnologiese kennis en navorsing om hulle te help om verbeteringe op maatskaplike en omgewingsgebied te verkry. Die werkswinkels word bedryf deur wetenskaplike koördineerders was as tussengangers dien tussen ’n burgerlike groep wat vrae aan universiteitsnavorsers, onderwysers of studente vra, wat op hulle beurt navorsing doen. By die NWU bemagtig ons ook ons gemeenskappe om met behulp van die universiteit navorsing te verstaan en te implementeer om die relevante behoeftes te hanteer.”

Gemeenskapsvennote woon die bekendstellingsvergadering op die Vanderbijlparkkampus by.

Vennote by die vergadering in Potchefstroom.

Gemeenskapsvennote en spanlede van Volhoubaarheid en Gemeenskapsimpak woon die forum se vergadering in Mahikeng by.

Submitted on Thu, 09/28/2023 - 12:04