Nuwe boek vestig die aandag op migrante en hul geestesgesondheidsuitdagings

Afgryslike tonele van migrante wat op see omgekom het terwyl hulle op soek is na ’n beter lewe, is ’n te algemene gesig op televisieskerms, aanlyn en in koerantberigte. Uiterste honger, onderdrukkende regerings en etniese en godsdienskonflik word as van die bydraende faktore vir die krisis genoem.

’n Akademikus van die Noordwes-Universiteit (NWU) met ’n navorsingsbelangstelling op die gebied van migrasie en kliniese sielkunde, prof Erhabor Idemudia, het ses Europese lande deurkruis om die nood van hierdie kwesbare groep bekend te maak en om oplossings te kry.

Lande wat deel is van die studie is Frankryk, Duitsland, Italië, Portugal, Spanje, Nederland en die Verenigde Koninkryk.

Prof Idemudia is die eerste medeskrywer van ’n boek oor die studie se bevindings, met die titel Psychological Experiences of African Migrants in Six European Countries, en wat deur Springer Nature gepubliseer is. Hy het in 2003 met die boek begin toe hy ’n Humboldt-student aan ’n Duitse universiteit was.

Hy en sy Duitse akademiese kollega, prof Klaus Boehnke, skilder ’n realistiese prentjie in die boek, en sê dit is “belangrik om daarop te let dat daar baie min empiriese studies is wat die impak ondersoek van migrasiestressors op die geestesgesondheid van en posttraumatiese stresversteuring (PTSD) onder Afrika-migrante wat daarin geslaag het om in Europa aan te kom”.

Die kern van die probleem

Die skrywers beklemtoon die belangrikheid van ’n goeie verhouding tussen Afrika-migrante en hulle gasheerlande in belang van wat hulle “sosiale vrede in Europa” noem.
“Wat ons studie duidelik getoon het, is dat Afrika-migrante nie ‘siek’ in Europa aankom nie, maar dat hulle dikwels siek gemaak word wanneer hulle daar is. Daar is migrante wat aan PTSD ly, maar hierdie versteuring is nie die ergste van die probleme wat deur Afrika-migrante in Europa ervaar word nie.”

Die bevindings van die studie in die ses lande plaas eerder rassisme en die betrokke lande se “verwelkomingstrategieë” in die kern van die geestesgesondheidskrisis.

“Ons het in 2010 ’n vroeëre boek (I’m an Alien in Deutschland) gepubliseer en het daarna besluit om uit te brei op hierdie probleme wat ons onder Afrikane sien. Ons het 3 500 vraelyste gebruik en het 22 fokusgroepbesprekings gehou en 22 diepteonderhoude gevoer, en dit is wat julle in hierdie (jongste) boek kan sien,” verduidelik prof Idemudia.

Fokus van die boek

“Die sielkunde van ’n Afrika-migrant in Europa” is hoe die skrywers die kernvraag van die boek beskryf. Hulle sê dat dit lig werp op hoe migrante aanpas, wat hulle motiveer, watter toestande hulle in hierdie Europese lande ervaar en hoe hulle oor die algemeen dinge hanteer.

Bevindings en aanbevelings

“Ons het gevind dat mense wat ‘ongedokumenteerde migrante’ is, baie geestesgesondheidskwessies ervaar wat op posttraumatiese stresversteuring in hulle daaglikse lewens uitloop. Om een of ander rede wissel dit van land tot land, afhangend van die beleid wat daar bestaan en die skakel wat daardie land met koloniale bande in Afrika het,” verduidelik prof Idemudia.

Hy gee die voorbeeld van Brittanje, waar ’n groot Nigeriese bevolking woon. Dit maak die integrasie van migrante was pas gearriveer het, draagliker as gevolg van faktore soos ’n ondersteuningstelsel en die wydverspreide gebruik van die Engelse taal in hulle land van herkoms. Dieselfde kan egter nie gesê word van lande soos Duitsland of Nederland nie.

“Duitsland het ’n goeie immigrasiebeleid, maar die taal raak ’n probleem. Talle migrante slaag nie daarin om te integreer nie, wat dan hulle geestesgesondheid begin affekteer,” sê prof Idemudia.

’n Kykie in die toekoms van migrante

’n Belangrike aspek van die boek was om die Eurosentriese teorieë dat Afrikane Europa met rampspoedige gevolge vir die gasheerlande binneval, die nek in te slaan.

“Ons wil hierdie bevindings met die betrokke Afrika-lande bespreek om hulle raad te gee oor dinge wat hulle intern kan doen en dinge wat hulle met diplomasie moet doen. Ons wil dit ook deur nieregeringsorganisasies koördineer.”

Die hoop is dat die bevindings en aanbevelings van die boek kan dien om in die toekoms vir al die lande wat betrokke is, ’n inset op beleidsvlak te verskaf.

Prof Erharbor Idemudia
Prof Erhabor Idemudia is die eerste medeskrywer van ’n ooptoegangboek wat fokus op die geestesgesondheidsuitdagings wat deur Afrika-migrante ervaar word.
Hy het onlangs ’n kopie aan die NWU se Mahikeng-biblioteek geskenk.
Die boek kan ook by https://link.springer.com/book/10.1007/978-3-030-48347-0 afgelaai word.

Submitted on Fri, 01/29/2021 - 09:18