Nuwe benadering tot praktiese onderwys is nie net kinderspeletjies nie

Dit lyk of LEGO®-blokkies in die klaskamer net so onweerstaanbaar is vir leerders as vir voordiensonderwysers, wat ontdek dat speel en leer op die ou end nie so veel van mekaar verskil nie.

Navorsers by die Fakulteit Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) gebruik hierdie helderkleurige plastiekblokkies vir die praktiese komponent van opleidingsprogramme vir voordiensonderwysers. Hulle hoop om ’n verandering en ’n vordering in onderrigmetodes teweeg te bring – by die universiteit se studente en ook regoor die breër gemeenskap.

Hierdie unieke program kombineer praktiese ervaringsleer met tradisionele teoretiese onderrig, wat deur ’n vennootskap met die niewinsgewende organisasie Care for Education gefasiliteer word. Die projek is ’n voorbeeld van die waarde van samewerking onder akademiese instellings, niewinsgewende organisasies en belanghebbers in die gemeenskap, en word deur prof Elma Marais en prof Carolina Botha bestuur.

Klaskamers word in kreatiewe ruimtes omskep

BEd-studente, wat as deel van hulle professionele oriënteringsprogram in hulle eerste jaar by die onderrigpraktykmodules ingeskryf is, kry ’n stel LEGO® Six Bricks as geskenk.  

Opleidingsessies word gereël om hulle te help om hierdie LEGO®-blokkies in hulle onderrig te gebruik. Die blokkies, wat vir hulle eenvoud bekend is, is veelsydige instrumente om die tradisionele klaskamer te omskep in ’n ruimte wat met kreatiwiteit, betrokkenheid en interaktiewe leer gevul is.

In die tweede semester word daar van eerstejaarstudente verwag om dit wat hulle geleer het by die LEGO® Six Bricks in hulle lesaanbieding aan te wend wanneer hulle vir vier weke by deelnemende skole geplaas word.

Hierdie gemeenskapsuitreikingsprogram strek egter verder as studentebetrokkenheid.

Die universiteit lei onderwysers regoor verskeie opvoedkundige instellings op oor die potensiële voordele van die aanwending van LEGO® Six Bricks in onderrig. Hierdie pogings is nie beperk tot instellings waar die BEd-studente hulle praktiese werk voltooi nie, maar word uitgebrei na ander organisasies en skole wat ’n visie vir die verryking van onderrigpraktyke het.

Vennote wat ’n visie deel

Deelnemende organisasies sluit skole in soos ES le Grange in Potchefstroom en Pathways in Bethlehem, niewinsgewende organisasies soos Ethembeni in Roodepoort en Lifting Dreams in Potchefstroom, asook Toevlug Primêr in Ventersdorp en Pansdrif Primêr in Brits.

“Die inisiatief begin stoom optel en het tot gevolg dat ’n groterwordende netwerk van opleidingsvennote belangstel om innoverende onderrigmetodes aan te wend,” sê prof Elma Marais.

Hierdie samewerkingsprojek beklemtoon die potensiaal van sulke vennootskappe om die gaping tussen teorie en praktyk te oorbrug.

Onderrigpraktykmodules is nie die enigste gebied waar die LEGO® Six Bricks binne die Fakulteit Opvoedkunde gebruik word nie.

In die vakgroep vir Psigososiale Onderwys werk Jaco van der Merwe en sy kollegas saam met die Laerskool Stilfontein en die Laerskool President Pretorius. Hulle lei al hulle honneursstudente op om LEGO® Six Bricks te gebruik om sessies met leerders te fasiliteer.

Die studente voltooi hulle praktiese ure by die Potchefstroom Hospitaal, waar hulle die ses blokkies as deel van hulle sessies met die kinders in die sale gebruik. Die gebruik van LEGO® Six Bricks is nie net opvoedkundig nie, maar dit is ook ’n prettige ervaring vir die kinders.

Opleidingsessies is ook by Vyfhoek Primêr aangebied.

Prof Elma Marais

Prof Elma Marais bied opleiding in samewerking met Ethembeni aan by die Mphe-Thuto Primêre Skool aan.

Submitted on Tue, 07/04/2023 - 10:56