NSTF ken gesogte “Wetenskap Oscars” aan twee van die NWU toe

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het hierdie jaar twee wenners by die NSTF-South32-toekennings gehad.   

Prof Linda Godfrey en Jonker Sailplanes (Edms.) Bpk. het hierdie gesogte toekennings – ook bekend as die “Wetenskap Oscars” – ontvang. Dit was tydens ’n hibriede geleentheid en lewendige uitsending vanaf Johannesburg en Kaapstad op 11 Julie.  

Prof Godfrey, ’n buitengewone professor in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, het die toekenning in die Groenekonomie-kategorie gewen. Hierdie toekenning word deur die Tegnologie-innoveringsagentskap geborg. Prof Godfrey is die bestuurder van Circular Innovation South Africa en die hoofwetenskaplike vir sirkulêre ekonomie by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR).

“Ek wil graag aan die ander benoemdes en finaliste in hierdie kategorie erkenning gee vir die briljante werk wat hulle doen.  Ook vir die Nasionale Wetenskap en Tegnologie Forum (NSTF), die WNNR en die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI) dat hulle die belangrikheid erken om in wetenskap, tegnologie, innovasie en die sirkulêre ekonomie te belê.  Ek kon dit nie sonder julle reggekry het nie.”

Sy het al die omgewingswetenskaplikes geloof, asook die ingenieurs en tegnici regoor Suid-Afrika wat in die ruimte van die groenekonomie werk. “Doe so voort, ons het julle almal nodig vir julle toewyding aan die omgewing.”

Jonker Sailplanes (Edms.) Bpk., met prof Attie Jonker van die Skool vir Meganiese Ingenieurswese as medestigter, aandeelhouer en direkteur, het die Innovasie-toekenning vir Klein, Medium en Mikro-sakeondernemings gewen.

Prof Jonker het gesê dat daar by die NWU groot samewerking tussen die bedryf en die universiteit is ten opsigte van navorsing.  “Ek wil byvoeg wat ’n briljante student gesê het: deursettingsvermoë is belangrik, maar as jy passie by deursettingsvermoë voeg, is sukses onvdermydelik.”

Prof Jeffrey Mphahlele, voorsitter van die NSTF en adjunk-visekanselier vir Navorsing en Innovasie by die NWU, sê die toekennings speel ’n belangrike rol in die hantering van nasionale imperatiewe soos inklusiwiteit en diversiteit.    “Dit word beklemtoon deur die profiele van ons benoemdes, finaliste en wenners. Miskien is die indrukwekkendste dat die toekennings nie bloot net erkenning van talent is nie, maar dat dit ’n florerende wetenskapstelsel van wêreldgehalte en vakkundiges in verskillende sektore – in die openbare sowel as die privaat sektor – bepleit.”

Hy sê dat die toekenningseremonie ook ’n platform is om jongmense te inspireer om die volgende geslag leiers, vakkundiges, innoveerders en wetenskaplikes op die gebied van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM) te word.   

Die NSTF-South 32-toekennings is die grootste, omvattendste en onder die mees gesogte nasionale toekennings. Dit gee erkenning aan uitmuntende bydraes in wetenskap, ingenieurswese en tegnologie (SET) en innovasie deur individue, spanne en organisasies. Die tema van hierdie jaar se gebeurtenis was die Vierde Industriële Revolusie (4IR) in Suid-Afrika.

Die NWU was goed verteenwoordig in die aanloop tot die toekennings en het agt benoemings en drie finaliste in die verskillende kategorieë gehad. Prof Rose Hayeshi, direkteur by die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI)/NWU Prekliniese Geneesmiddelontwikkelingsplatform (PCDDP), was ’n finalis vir die Bestuurstoekenning.

Vir meer inligting besoek: https://nstf.org.za/awards-gala-dinner/.

Science Oscars 1

Prof Linda Godfrey ontvang die toekenning van minister Blade Nzimande.

 

Photos deur Steve Maphakathe

Prof Attie

Prof Attie Jonker en Johan Bosman ontvang die toekenning namens Jonker Sailplanes (Edms.) Bpk. en die NWU.

jeff

Prof Jeffrey Mphahlele tydens die geleentheid

Submitted on Fri, 07/12/2024 - 12:27