Noordwes-Universiteit vereer sy uitmuntende navorsers

Die NWU het op 3 Desember 2020 sy allerbeste navorsers en innoveerders tydens ’n virtuele toekenningsaand vereer.

Talle van die uitmuntende personeellede het by die geleentheid erkenning vir hulle uitnemendheid in navorsing in 2019 ontvang, waarby navorsers met nuwe NNS-graderings ingesluit is.

Die wenners van die visekanseliersmedalje vir die beste meestersgraadstudent in al die fakulteite en die S2A3-medalje vir die beste student in óf die Fakulteit Ingenieurswese, óf die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, óf die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe is ook aangekondig, en hierdie medaljes sal by die volgende fakulteitsgradeplegtigheid oorhandig word.

Hierdie jaar was  ’n eerste nie net omdat dit ’n virtuele seremonie was nie, maar ook omdat die uitblinkers in navorsing in nuwe kategorieë erkenning ontvang het. Daar is vir die eerste keer ook erkenning gegee aan navorsers aan wie tweede plekke toegeken is.

Net soos verlede jaar het die Fakulteit Teologie die beste gevaar, met prof Marius Nel wat die gesogte toekenning as die produktiefste navorser van die jaar ontvang het. Prof Nel is ook by verlede jaar se seremonie as die wenner in hierdie kategorie aangewys.

Die fokus van sy navorsing is Afrika-pentekostalisme en die hermeneutiese perspektiewe daarvan. Prof Nel ondersoek die invloed van Afrika-pentekostalisme op die verskillende maniere waarop die Bybel gelees en uitgelê word.

Prof Danie Meyer, ’n ontwikkelingsekonoom en voormalige direkteur van die Handel en Ontwikkeling-navorsingsentiteit in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het die tweede plek in die kategorie vir die produktiefste navorser behaal.

Prof Ruan Kruger was die wenner in die nuwe kategorie vir die produktiefste opkomende navorser. Prof Kruger is die navorsingsleier van die NNS SARChI Navorsingsleerstoel in die Vroeë Opsporing en Voorkoming van Kardiovaskulêre Siekte in Afrika, wat deur die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) se sentrum van uitnemendheid gehuisves word. Sy navorsing fokus op die vroeë opsporing en voorkoming van hipertensie en vroeë vaskulêre veroudering, veral by kinders en in vroeë volwassenheid.

Die tweede plek in hierdie kategorie is aan dr Zandri Dickason-Koekemoer van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe toegeken. Prof Dickason-Koekemoer spesialiseer in finansiëlerisikobestuur, met haar vernaamste fokus op finansiëlerisikotoleransie, deponeerder- en beleggersgedrag, gedragsfinansies, en die finansiële welstand van beleggers.

Prof Leenta Grobler van die Skool vir Meganiese Ingenieurswese en dr Henri Marais van die Skool vir Elektroniese en Rekenaaringenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswese het die innovasie-impaktoekenning ontvang vir hulle bydraes ten opsigte van digitale gesondheidsverwante ingenieursinnovasies.

Dr Aurelia Williams van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe was die wenner in die kategorie vir NWU nasionale en internasionale erkennings en lidmaatskappe. Dr Williams is op die Mail & Guardian se lys van die top-200 jong Suid-Afrikaners vir 2019 in die Wetenskap en Tegnologie-kategorie.

Dit was nie net die navorsers en innoveerders wat die sterre van die aand was nie. Studente het ook uitgeblink, met Liezel Naidoo en Christelle van Zyl wat die visekanseliersmedalje in die kategorie vir die uitmuntendste meestersgraadstudent in onderskeidelik die Fakulteit Gesondheidswetenskappe en die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ontvang het.

Renier Timothy Hough het die S2A3-bronsmedalje (vir oorspronklike navorsing op meestersgraadvlak) ontvang as die uitmuntendste meestersgraadstudent in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe.

Klik hier vir ’n volledige lys van al die wenners 

NWU-navorsers oorkom die Covid-19-uitdagings

Prof Frans Waanders, waarnemende adjunk-visekanselier vir navorsing en innovasie, het oor die huidige stand van navorsing aan die NWU gepraat en gesê dat ten spyte van die impak van Covid-19, navorsing by die NWU in die meeste gevalle voortgegaan het. “Dit was tydens ons onlangse vergadering met ons fakulteitsdekane duidelik dat die skryf en indiening van vaktydskrifartikels selfs verbeter het vergeleke met 2019.”

Hy sê dat die skakel in die navorsingsketting wat die grootste skade as gevolg van die pandemie gely het die nagraadse studente was, aangesien sommige van hulle nie by ’n laboratorium kon uitkom, ernstige navorsing kon doen of ’n proefskrif of verhandeling kon laat bind nie.  “Ek vertrou dat elektroniese indienings gehelp het om hierdie frustrasies te verminder. Dit uitstel vir die indienings van eksamenskrifte na laat-Desember was ook ’n besluit wat hulle tegemoet gekom het.”

Prof Linda du Plessis, adjunkhoof en adjunk-visekanselier vir beplanning en Vanderbijlparkkampusbedrywighede, sê dat nadat sy na al die prestasies geluister het, woorde nie genoeg was om alles saam te vat wat bereik is, en om die dankbaarheid uit te spreek vir die deursettingsvermoë en toewyding wat navorsers teenoor hulle werk getoon het nie.

“’n Gebeurtenis soos hierdie gee ons nie net ’n kykie in die werk wat by ons instelling gedoen word nie, maar dit is ook ’n geleentheid om elke persoon te bedank wat ’n bydrae tot die navorsingsprestasie by hierdie instelling lewer. ’n Hartlike woord van nie net gelukwensing nie, maar ook baie dankie aan elke ontvanger van ’n toekenning.”

Visekanselier prof Dan Kgwadi sê dat hoewel dit ’n jammerte is dat navorsers virtueel moes bymekaarkom en hierdie jaar nie persoonlik daar kon wees om hulle prestasies te vier nie, die virtuele toekennings geensins ’n gebrek aan erkenning was vir die wonderlike werk wat die NWU se navorsers en innoveerders doen nie.

“As instelling het ons ons nasionale en internasionale posisies op ranglyste en graderings verbeter, en dit is alles aan julle bydraes te danke. Ons bedank julle en julle ondersteuningstelsels – julle gades, dekane, hoofde van departemente en direkteure.”

Hy sê dat die NWU-familie waarlik geïnspireer is deur die harde werk van navorsers en hy voel geëerd om elke navorser en innoveerder wat ’n toekenning ontvang het, geluk te wens.

“Dankie dat julle ons trots gemaak het,” het hy afgesluit.

Video: https://youtu.be/nQElU-M2a_k?t=575

Submitted on Fri, 12/04/2020 - 08:14