Gewasproduksie in Suid-Afrika lê in die skadu van stormwolke, en nie die tipe waarna boere smag nie. ʼn Swetterjoel onsekerhede span saam om die vooruitsigte vir die land se gewasboere te verduister, wat klimaatsverandering, waterskaarste, gronddegradasie, siektes, ekonomiese onstabiliteit sowel as infrastruktuur- en energiebeperkinge insluit.
Daarom beywer navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe hulleself om daadwerklike oplossings vir die land se knellendste landboukwessies te vind.
Om dit te kan doen, moet die NWU aan die voorpunt van innovasie bly, en twee nuwe landbougerigte projekte getuig van die universiteit se verbintenis daartoe: die NWU AgriHub en die HVAC-groeifasiliteit.
Prof Jacques Berner, subprogramleier, is ʼn kenner op die gebied van gewasfisiologie, met ’n fokus op fotosintese en die aanpassing van antieke graangewasse by omgewingstres. Sy kundigheid lê in die ondersoek na fisiologiese reaksies van gewasse op droogte en uiterste temperature. Hy vertel meer oor die Verhitting-, Ventilasie- en Lugversorging-groeifasiliteit (HVAC Growth Facility): “Hierdie gevorderde fasiliteit sal beheerde omgewings bied wat verskeie klimaatstoestande naboots, insluitend variasies in temperatuur, lig, humiditeit, droogte en oorstroming. Dit sal die ideale omgewing vir navorsing oor die impak van klimaatsverandering op plantgroei en -ontwikkeling skep. Deur verskillende omgewingsveranderlikes na te boots, sal die fasiliteit navorsers in staat stel om te bestudeer hoe plante op wisselende ligtoestande, temperatuurstressors en watertekorte reageer. Dit sal waardevolle insigte in hulle veerkragtigheid, aanpasbaarheid en algehele gesondheid in veranderende omgewingstoestande bied. Hierdie navorsing kan potensieel ’n aansienlike bydrae tot landboupraktyke en strategieë vir die versagting van klimaatsverandering lewer,” sê Berner.
Die universiteit kyk ook verder as die nabye toekoms na ander moontlikhede om die landbousektor te ondersteun.
Prof Gerhard du Preez van die Landbouwetenskappe-groep voeg by dat: “Ons streef daarna om die NWU AgriHub van Uitnemendheid, wat net 4 km vanaf die NWU se Potchefstroomkampus geleë is, as ’n sentrum vir landbou-innovasie, navorsing en opleiding te vestig. Ons begin hierdie seisoen met ’n graangebaseerde langtermynproef en sal op diverse landbousisteme fokus om volhoubare voedselproduksie te bevorder. Ons visie is om oplossings te ontwikkel wat voedselsekerheid en omgewingsvolhoubaarheid sal verseker, terwyl ons kennisgapings tussen die akademie, die bedryf, die regering en boere oorbrug. Hierdie sentrum sal dien as ’n platform vir
invloedryke navorsing, bedryfsamewerking en die ontwikkeling van landbousisteme wat vir die uitdagings van die toekoms ontwerp is,” verduidelik Du Preez.
Volgens Prof Bismark Tyobeka, prinsipaal en visekanselier van die NWU ondersoek die universiteit die moontlikheid om ’n veeartsenyskool te stig, wat onder andere saam met die NWU se vakgroep Diergesondheid en die landbouprogram sal werk om voedselsekerheid ’n prioriteit te maak.
“In die land en in Noordwes speel landbou ’n belangrike rol in die toevoeging van ekonomiese waarde, die verskaffing van werkgeleenthede, die bevordering van landelike ontwikkeling en die skepping van voedselsekerheid. As ons na voedselsekerheid kyk, is daar tans ’n groot behoefte in ons provinsie en in ons land, maar die universiteit het die kapasiteit en kundigheid om ’n merkbare verskil in hierdie sektor te maak, en ons verhoog ons betrokkenheid by die landbousektor deur ons vennootskappe met die regering en die privaat sektor verder te ontwikkel,” aldus prof Tyobeka.
Benewens hierdie pogings kyk die NWU ook na samewerking met die provinsie se sukkelende landboukolleges, en daar is reeds baie vordering in hierdie verband gemaak.
Landbou is een van die steunpilare van Suid-Afrika se ekonomie, en die NWU is daartoe verbind om seker te maak dat dié sektor nie net gesond is nie, maar groei.