Nóg ’n pluimpie vir Deidre Jordaan

Bertie Jacobs

Kampala bly maar ʼn plek vir Deidre Jordaan om aan gewoond te raak. Sy sal weet. Dit is immers die tweede agtereenvolgende jaar dat sy Suid-Afrika by die Afrika-pluimbalkampioenskap in die hoofstad van Uganda verteenwoordig het.

Hoewel dit in Februarie 2022 plaasgevind het, bly die herinneringe vars. “Dit is altyd ʼn uitdaging en elke keer ʼn ervaring,” vertel hierdie 27-jarige.

Deidre het saam met Amy Ackerman in die dubbelspel-eindstryd teen Lorna Bodha en Kobita Dookhee van Mauritius vasgeval om ʼn silwer medalje in te palm. Dan was sy ook deel van die vrouespan wat algeheel derde geëindig het. Dit was haar derde Afrika-kampioenskap, met die eerste een wat in 2020 in Egipte plaasgevind het. Sy is ook een van die topgekeurde spelers in Suid-Afrika in die enkel-, dubbel- en ook die gemengdedubbel-kategorie.  

Dié boorling van Vereeniging, wat by Hoërskool Overvaal gematrikuleer het, het in 2021 haar graad in Menslike Bewegingskunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) behaal en dien vir die afgelope paar jaar as die assistent van Johann Sauer, bestuurder van die binnehuisesportsentrum op die NWU se kampus in Potchefstroom, waar sy hoofsaaklik by pluimbal betrokke is. Daarbenewens is sy ook by Pluimbal SA betrokke.

Deidre het haar liefde vir pluimbal by haar pa, Andrew, geleer. Haar oupa, ook genaam Andrew, was self ʼn begaafde speler. “Ek het langs die pluimbalbaan grootgeword. Ek is mal oor die sport en ek geniet die samesyn tussen die mense baie. Ons is ʼn klein familie wat  na mekaar omsien.”

Sy beskryf haarself as ʼn uiters mededingende mens wat versot is op sport.

“Wanneer ek nie pluimbal speel nie is ek by ʼn ander sportsoort betrokke. As familie hou ons ook daarvan om aktief te wees, soos om ʼn paar gholfballe te gaan slaan. Ek is absoluut sportgedrewe. Alles draai rondom sport.”

Wat haar wel bekommer, is dat daar ʼn afname in deelname aan haar geliefde pluimbal te bespeur is.

“Ons moet ’n liefde vir pluimbal onder die jonges kweek en kleiner sportsoorte terugbring skole toe. As ons net ʼn paar Liggaamsopvoeding-onderwysers kan kry wat sal belangstel om dit te doen, sal dit ʼn goeie begin wees.”

Dit is haar langtermyndoelwit as deel van Pluimbal SA. Haar korttermyndoelwit is om later vanjaar die Statebondspelespan te haal, en dan is daar die Olimpiese Spele in 2024. Dit is merkwaardig om te dink dat sy eers in 2020 haar internasionale buiging gemaak het nadat sy pluimbal ná skool wou los.

“Ek moet dankie sê vir die NWU, wat gehelp het om my pluimbaldrome te laat waar word. Sonder die universiteit sou ek nie hier gewees het nie.”

  

Submitted on Fri, 04/22/2022 - 11:32