Suid-Afrika 2024 – ’n scenario-perspektief

Die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool het onlangs ’n “Think Tank” aangebied oor die onderwerp Suid-Afrika 2024 – ’n scenario-perspektief (South Africa 2024 – a scenario perspective).

Dr Frans Cronje, HUB van die Instituut vir Rasseverhoudinge, en dr Oscar van Heerden, Direkteur Bedrywighede by die Mapungubwe-instituut vir Strategiese Nadenke, het voorleggings gelewer.

Hierdie spesifieke geleentheid het gefokus op politieke, ekonomiese, maatskaplike en tegnologiese veranderlikes en die impak wat dit op Suid-Afrika se toekoms op pad na 2024 sal hê.

Hoewel Suid-Afrika groot politieke, ekonomiese, tegnologiese en maatskaplike uitdagings in die gesig staar, was albei aanbieders positief oor die toekoms, mits die vernaamste politieke, ekonomiese en opvoedkundige kwessies aandag ontvang.

Dr Cronje het die belangrikheid beklemtoon van eiendomsregte, die deregulering van markte en bemagtigingstrategieë as kritieke faktore wat tot ’n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners kan bydra. Volgens sy standpunt behoort bemagtiging nie op ras gegrond te word nie, maar eerder armoede as die belangrikste kriterium te hê.

Hy het verwys na opnames wat die positiewe en konstruktiewe verhoudings tussen rassegroepe in die land aandui – strydig met wat byvoorbeeld in Senekal en Brackenfell gebeur het.

Dr Van Heerden het die belangrikheid beklemtoon van sosiale samehorigheid, staatskapasiteit, ’n sterk en aktiewe burgerlike samelewing, tegnologiese innovasie en vorms van sosio-ekonomiese bemagtiging om die uitdagings in die Suid-Afrikaanse konteks te hanteer. Hy het spesiale melding gemaak van die belangrikheid van navorsing en innovasie as bepaler vir ontwikkeling, en die belangrikheid van maatskaplike toelaes vir arm Suid-Afrikaners in die toekoms.

Albei die aanbieders het verwys na die onsekerheid in die raamwerk van die ANC en die impak wat dit op toekomstige ondersteuning en die verkiesings van 2021 en 2024 kan hê. Dr Van Heerden verwag dat die ANC hulle ondersteuningsbasis sal uitbrei, terwyl dr Cronje die middelmatige aard van partypolitiek in Suid-Afrika, die disintegrasie van die ANC, die herstrukturering van politiek en die noodsaaklikheid van koalisiepolitiek in die toekoms beklemtoon het.

Kontak prof Andre Duvenhage by Andre.Duvenhage@nwu.ac.za of 082 883 4156 vir meer inligting.

 

Submitted on Mon, 11/23/2020 - 11:10