Rentekoerse onveranderd gelaat soos verwag

Prof Raymond Parsons, ekonoom by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê dat die Monetêre Beleidskomitee (MBK) se jongste besluit om weer eens die rentekoers onveranderd te laat, te wagte was in die lig van die ekonomiese model waarop die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) sy sake hanteer.

“Die MBK het weer eens naelskraaps met drie teen twee gestem om die repokoers onveranderd te laat, hoewel ekonomiese omstandighede nietemin steeds daarop dui dat die SARB ruimte gehad het om dit te verlaag as hy sou wou.”

Hy sê dat die SARB self meen dat inflasie onder beheer is. ’n Verdere verlaging in rentekoerse, selfs ’n geringe een, sou nuttig gewees het om te help om die ekonomie om te keer, al is daar ’n toenemende bewyse van ekonomiese herstel in die tweede helfte van 2020 namate die maatreëls ten opsigte van die staat van inperking geleidelik verslap is. Verskeie ekonomiese sektore voorspel beter ekonomiese nuus.

Prof Parsons sê dat die SARB se president, Lesetja Kganyago, nietemin saamgestem het dat die hoëfrekwensiedata wat tot dusver beskikbaar is, daarop dui dat die huidige herstel meer op basiseffekte as op ’n sterk ekonomiese momentum berus. Voortgesette wankelrige verbruikersvertroue en nog groter werkloosheid veroorsaak steeds volgehoue en algemene swak binnelandse ekonomiese toestande in hierdie tydperk.

“Die wêreldwye ekonomiese vooruitsig onder van Suid-Afrika se vernaamste handelsvennote het ook intussen versleg, met ’n nuwe golf van Covid-19 wat ekonomiese onsekerheid skep deurdat hernude inperkingsmaatreëls in verskeie ontwikkelde ekonomieë soos die Verenigde State en die Europese Unie ingestel is. Hierdie ontwikkelings het nuwe vrae oor die vooruitsigte in die wêreldekonomie laat ontstaan.”

Prof Parsons verduidelik dat die SARB verwag dat 2020 binnelands ’n ietwat groter groei-uitkoms van -8% in die bruto binnelandse produk (BBP) sal toon, in plaas van die -8,2% wat voorspel is. Verbeterde groei-uitkomste word vir 2021 en 2022 voorspel.

“Die MBK glo nietemin dat dit lank sal duur vir uitset in Suid-Afrika om na vlakke soos voor die pandemie terug te keer. Die ekonomiese bewyse wat in die jongste SARB-staat weerspieël word, bevestig ook dat die positiewe risiko’s van inflasie baie laer as die negatiewe risiko’s is. Dit is waarom ’n sterk minderheid op die MBK by hierdie vergadering ’n vermindering van nog 25 basispunte in die repokoers gesteun het.”

Hy sê dat as daar na die toekomstige besluitnemingsprosesse van die MBK gekyk word, twee sake aandag moet ontvang:

* Die SARB-president Kganyago se versekering in antwoord op ’n vraag dat pogings aangewend word om die MBK op sy volle sterkte van sewe lede te kry, is welkom en noodsaaklik. Dit sal tot meer optimale besluitneming deur die MBK lei in die lig van die belangrikheid van die monetêre beleidsake wat hanteer moet word.

* Daar moet beklemtoon word dat, soos die MBK ook genoem het, die kwartaallikse projeksiemodel wat die komitee gebruik het, geen plaasvervanger vir menslike oordeel is nie. Dit geld nog in ’n groter mate in die huidige buitengewone ekonomiese omstandighede waarin die meeste ekonomieë, insluitende Suid-Afrika, hulleself bevind. Hoewel die SARB aanvanklik hierdie jaar vinnig gereageer het deur die rentekoerse te verlaag, moes sentrale banke deurlopende buigsaamheid in die monetêre beleid toon om hulleself nie “agter die kurwe” te bevind namate gebeure ontvou het nie.

Prof Parsons sê dat die SARB nietemin reg is om weer eens te beklemtoon dat die belangrikste oplossings vir Suid-Afrika se ekonomiese verknorsing elders lê, en nie in die monetêre beleid nie. “Die innoverings lê nou in die dringende implementering van beloofde ekonomiese hervormings en in die handhawing van fiskale volhoubaarheid. Hierdie prioriteite is onderskeidelik in die jongste ekonomieseherstruktureringsplan en die mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring vervat.”

Hy sê dat die vermoë om die oormatige staatsloonrekening te beheer, steeds Suid-Afrika se ekonomiese scenario oorheers – veral op die fiskale front – en dat die beperking daarvan noodsaaklik is as geloofwaardigheid ten opsigte van fiskale beplanning gebou moet word.

“Hierdie faktore, saam met die uitkoms van die regering se derde beleggingskonferensie hierdie week, en wat die jongste graderingsagentskapverslae binnekort oor die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan sê, baie belangriker as die monetêre beleid sal wees om die onmiddellike ekonomiese omgewing te vorm.

“In die bepaling van ’n pad na fiskale volhoubaarheid en hernude groei is dit dus belangrik dat hoe gouer ’n vaste ekonomiese rigting in Suid-Afrika gekonsolideer word en beleidsonsekerheid verminder word, hoe beter is die vooruitsig om beleggersvertroue te verhoog en arbeidsryke groei te skep.”

Submitted on Mon, 11/23/2020 - 07:57