NNS gee befondsing vir steenkoolnavorsing by die NWU ’n hupstoot

Die soektog na meer volhoubare en groener steenkoolenergie het ’n hupstoot gekry deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) se hernuwing van die Leerstoel vir Steenkoolnavorsing by die Noordwes-Universiteit (NWU).  

Die leerstoel het as deel van die NNS se Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief (SARChI) befondsing van R4,15 miljoen per jaar vir die volgende vyf jaar ontvang. Dit kom neer op meer as R20 miljoen oor die hele tydperk.

Die bekleër van die leerstoel is prof John Bunt van die Sentrum van Uitnemendheid in Koolstofgebaseerde Brandstowwe in die Skool vir Chemiese en Mineraalingenieurswese. “Ons is uiters dankbaar en voel verootmoedig deur hierdie suksesvolle evaluering en hernuwing van die leerstoel. Dit sal ons in staat stel om ons werk aan die voorpunt van meer omgewingsvriendelike steenkoolenergie voort te sit.”

Die leerstoel, wat in die Fakulteit Ingenieurswese gehuisves word, fokus op fynsteenkoolverwerking en die benutting van steenkool en steenkoolafval.

’n Dekade van navorsingsuitnemendheid

Die NNS se SARChI-leerstoel vir Steenkoolnavorsing het in 2013 begin ná ’n geslaagde voorlegging dat die Eenheid vir Energiestelsels alle verwante navorsing in een fokusarea moet koördineer en belyn. Dit het vir twee siklusse van vyf jaar elk voortgeduur.

Volgens prof Bunt is die volle steenkoolwaardeketting hulle fokus, met spesifieke klem op optimalisering wat tot kommersialisasie lei.

Hulle het verskeie studies oor die afgelope 10 jaar uitgevoer op gebiede soos onder andere die fundamentele aspekte van fynsteenkoolontwatering, die breekverlies van steenkool, die brikettering van brandstofstawe, molekuulmodellering, reaksiekinetika, en teervorming en -afbreking.   

“Die SARChI-steenkoolnavorsingsentiteit het oor die afgelope dekade gegroei van slegs ’n paar navorsers en minder as vyf studente tot ’n groep wat uit 10 voltydse personeellede (dit sluit sewe NNS-gegradeerde navorsers in) en meer as 80 nagraadse studente oor die afgelope vyf jaar bestaan.”

Hierdie nuwe befondsing sal hulle in staat stel om nog verder uit te brei.

Projekte het ’n impak op steenkoolopwekkingsenergie

Hoewel die leerstoel se navorsers deurlopend aan opwindende nuwe tegnologie en navorsing werk, sê prof Bunt dat daar sommige projekte is wat groot belofte vir meer omgewingsvriendelike steenkoolenergie inhou.

Een daarvan is die brikettering van fynsteenkool. “Daar is miljoene ton fynsteenkool in slyk- en flodderdamme wat nie gebruik kan word nie omdat dit nat is. Ons kan deur brikettering steenkool tot groter groottes opgradeer, wat dan doeltreffend gebruik kan word in tegnologieë wat groter stukke steenkool kan verwerk.”

Hy sê dat die briketteringsprojek ’n wonderlike voorbeeld is van hoe die SARChI-leerstoel vir Steenkoolnavorsing met ander leerstoele op die energiegebied – in hierdie geval prof Sannette Marx se DWT SARChl-leerstoel in biobrandstof en ander skoon alternatiewe brandstowwe (wat ook by die NWU geleë is) – hande vat om groener steenkooltegnologieë te produseer.    

Nog ’n navorsingsprojek is ’n samewerking met die Eskom-kragaanleg Ingenieursinstituut (EPPEI) se Spesialisasiesentrum vir Emissiebeheer. Dit fokus op die optimalisering van koolstowe. “In Suid-Afrika is talle arm huishoudings van koolstowe afhanklik. Dit kan tot siektes en ander probleme lei as gevolg daarvan dat huise nie voldoende geventileer is om koolstofdioksied- en koolstofmonoksied-emissies van die stowe te verwyder nie.”

Hy sê hulle hanteer die probleem deur nuwe stowe te ontwerp en ouer modelle om te skakel om skoner te brand en laer emissies te produseer. “Hierdie opwindende tegnologie sal ’n groot impak op die lewensgehalte van talle huishoudings maak. Dit gaan binne die volgende paar maande deur die EPPEI-leerstoel se navorsingspan in die veld getoets word.”

 

Prof John Bunt

Leer meer oor die SARChI-leerstoel vir Steenkoolnavorsing.

Submitted on Wed, 06/14/2023 - 10:43