Nieverwisselbare bewyse: Waarom al hierdie opgewondenheid?

Bertie Jacobs

’n Nuwe akroniem het ons woordeskat betree: NFT. NFT staan vir non-fungible token – ’n nieverwisselbare bewys – wat op sigself nie veel sê nie. Wat NFT’s is, is geld. Groot geld. En dit is besig om die wêreld van digitale handel te verander.

Eerstens beteken onvervangbaar dat die item nie vir ’n ander een van sy soort verruil kan word nie. ’n NFT is uniek, soos ’n skildery. Trouens, dit is baie soos ’n skildery. Professor Waldo Krugell van die Skool vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verduidelik.

“Jy kan maar sê dit is digitale kuns, maar dit is waarskynlik veiliger om te sê dit is ’n digitale item wat enig in sy soort is. Dit word op ’n blokketting gestoor en jy kan een in jou digitale beursie hê. Dis ’n nuwe soort bateklas. Voor die koms van blokkettingtegnologie was dit moeilik om jou eie digitale kunswerk te besit, aangesien enigeen ’n kopie kon aflaai. NFT’s los hierdie probleem op deur die eiendomsreg sigbaar te maak en toe te laat dat transaksies op nuwe maniere plaasvind,” sê Krugell.

Dus is dit byvoorbeeld ’n digitale skildery wat teen kopiëring gevrywaar is. Rapper Snoop Dogg, Paris Hilton, Gwyneth Paltrow, Justin Bieber en talle ander beroemdes het NFT’s bekendgestel, en die wêreld het begin volg. Dit is ’n tendens wat groei.

“Hierdie mark is groot. Daar word elke week miljoene dollar se NFT’s deur markplekke soos Foundation of OpenSeas verkoop, en beroemde mense is dikwels betrokke. Verlede jaar in Maart is ’n kunswerk genaamd Everydays: The first 5000 days vir $69 miljoen op ’n veiling verkoop.”

Volgens Krugell kan NFT’s ’n bietjie soos kriptogeldeenhede klink, met blokkettings, hoë pryse, en ondeurdringbare jargon, en met die gemiddelde persoon wat glad nie verstaan waarom die pryse so ongelooflik hoog kan wees nie. “Dit is nie ’n billike vergelyking nie.”

Krugell verduidelik: “Dit is ’n nuwe digitale bate, maar dit verskil van kriptogeldeenhede in dié sin dat NFT’s nie as betaalmetode gebruik word nie. Benewens dat dit ’n manier is om kuns te versamel, word dit op talle interessante maniere gebruik. NFT’s kan soos lidmaatskapkaarte werk, of kaartjies wat die eienaars daarvan in staat stel om dinge in die werklike wêreld of die digitale wêreld te doen. Maatskappye het dit al gebruik as ’n manier om ’n gemeenskap by hulle handelsmerk betrokke te kry, en aan eienaars toegang tot eksklusiewe handelsware of spesiale afslag te gee. Dit kan ook as digitale sleutel tot aanlyn ruimtes werk. Op hierdie manier skep NFT’s waarde wat verder as die oorspronklike bewys strek.”

Hoewel NFT’s oorsee ’n gier is, het Suid-Afrikaners – nog nie – vir die aanloklikheid daarvan geval nie.

“As jy wonder of ons dit in ook Suid-Afrika het – dit is nog nie ’n groot ding in Suid-Afrika nie, maar ons het ’n Suid-Afrikaanse NFT-platform genaamd Momint, en daar is verlede jaar veilings gehou. Ek dink dat dit ’n ruimte is wat gaan aanhou groei met meer produkte soos musiek en eiendom wat in bewyse omgeskakel en aanlyn verkoop kan word. Suid-Afrikaanse beleggers gaan beslis bykom,” sluit Krugell af.

....

Professor Waldo Krugell

Submitted on Mon, 04/11/2022 - 10:32