Negatiewe faktore lei tot derde kwartaal se BBP-daling

Die daling in die groei van die bruto binnelandse produk (BBP) tot -0,2% vanaf 0,5% in die tweede kwartaal van 2023 was erger as wat verwag is.

Statistieke Suid-Afrika het op 5 Desember die BBP-groeisyfers vir die derde kwartaal bekend gemaak. Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê negatiewe faktore het duidelik die positiewes oorheers tot ’n groter mate as wat in daardie tydperk verwag is.

“Hoewel daar in daardie kwartaal ’n tydelike verbetering in energiebeskikbaarheid was, het verskeie ander belangrike hoëfrekwensie-indekse daardie tyd reeds teen ’n verlies aan ekonomiese momentum gewaarsku. Vyf uit tien sektore van die ekonomie het nou ’n afname in die BBP-groei van die derde kwartaal getoon.”

Volgens prof Parsons sal soortgelyke ekonomiese tendense ook steeds voorkom vir die vorming van ’n waarskynlike swak BBP-groei-uitkoms in die huidige vierde kwartaal van 2023.

Hy sê die afname in vastekapitaalvorming in die derde kwartaal van 2023 is ook ’n rooi vlag.

“Die jaar gaan waarskynlik met gedempte ekonomiese aktiwiteit afsluit. Suid-Afrika moet nou die moontlikheid voorkom dat ’n ‘tegniese resessie’ (twee agtereenvolgende kwartale van negatiewe groei) teen die swak ekonomiese agtergrond van die derde kwartaal van 2023 ontwikkel.”

Prof Parsons wys daarop dat benewens ander wêreldwye en plaaslike teenwinde, groeiverwagtings in Suid-Afrika steeds spesifiek daarvan afhanklik is dat beurtkrag bestendig uitgefaseer word en ’n hoër vlak van energiesekerheid bereik word as wat tans die geval blyk te wees.

 

“Daar is voorts ook bottelnekke in Transnet se spoor- en hawedienste wat wydverspreide ontwrigting en groot bykomende koste vir die ekonomie bring. Hierdie kumulatiewe infrastruktuurterugslae vereis dringende regstelling – soos Transnet se onlangse leningswaarborg deur die Nasionale Tesourie – wat suksesvol geïmplementeer moet word om Suid-Afrika se groeiprestasie volgende jaar in stand te hou.”

 

Prof Parsons sluit af deur te sê dat die jongste BBP-groeisyfers ’n nuwe dringendheid skep in die beleid- en projekoptrede wat nodig is om ekonomiese groei te ondersteun.

Submitted on Wed, 12/06/2023 - 10:16