Neem standpunt in en praat: ’n byeenkoms teen geslagsgebaseerde geweld

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het op 13 November, in samewerking met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO), Higher Health en die Vuselela-kollege vir Tegniese Beroepsgerigte en Beroepsgerigte Onderwys en Opleiding (TBOO-kollege), ’n byeenkoms oor geslagsgebaseerde geweld (GBV) en vrouemoord gehou.

Die geleentheid het by die Sanlam Ouditorium op die Potchefstroomkampus plaasgevind, en was daarop gemik om ’n bewustheid te skep van die stryd teen GBV, en om samewerking aan te moedig om geweld op die kampusse van hoëronderwysinstellings uit te roei.

Dit was ’n aangrypende geleentheid in die lig van die onlangse GBV-insident waar ’n vroulike student van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie na bewering deur haar man met ’n mes gesteek is.

Prof Daryl Balia, adjunk-visekanselier vir inligtingstegnologie en Potchefstroomkampusbedrywighede, het die gaste en die hoogaangeskrewe sprekers verwelkom en die beduidendheid van die geleentheid beklemtoon.

“GBV en vrouemoord is ’n depressiewe kwessie,” het hy gesê. “Dit is vir ons belangrik om die impak te erken wat dit het op ons pogings om Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit nommer 5 te bereik, naamlik om teen 2030 geslagsgelykheid te bereik en alle vroue en meisies te bemagtig.”

Priscilla Lehoko, hoof van die Vuselela-TBOO-kollege, het gepraat oor die program vir burgerlike opvoeding en gesondheidsvaardighede (Civic Education and Health Skills Programme) wat onlangs bekendgestel is en deur HH geïmplementeer word.

Die program is ontwerp om talle persoonlike en maatskaplike uitdagings te hanteer, en dit dek modules wat met GBV, genderdiversiteit en -gelykheid, geestesgesondheid en gestremdheid verband hou. Ander modules handel oor omvattende seksuele opvoeding; alkohol- en middelmisbruik en verslawing; die bou van veerkragtigheid by jong mans; en klimaatsverandering.

Daarbenewens het Nthuseng Mphahlele, wat die direkteur vir Higher Health se bedrywighede en strategiese beplanning is, gesê hoëronderwysinstellings moet studente bemagtig met kennis oor hoe om die gevolge van GBV te hanteer.

Volgens Nomvula Chasakara, die voorsitter van die Studente-kampusraad op die Potchefstroomkampus, is opvoeding en ’n bewustheid die wapens waarmee GBV beveg kan word. “Die stryd teen GBV vereis ’n verenigde front sodat elke persoon – ongeag hulle geslag – vry kan wees van die bande van geweld,” het sy bygevoeg.

Buti Manamela, die adjunkminister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, het die hoofrede gelewer. “Gesprekke van hierdie aard is noodsaaklik, aangesien hulle daarna streef om problematiese toksiese manlikheid te hanteer, en mense te help om die negatiewe maniere af te leer waarop jongmense aangemoedig is om kwessies op te los,” het hy gesê.

“Tien persent van die aangemelde GBV-gevalle vind by instellings vir hoër onderwys plaas,” het hy bygevoeg. “Ek daag universiteite uit om behoorlike institusionele ondersteuning vir studente in plek te stel sodat hulle die vertroue kan hê dat hulle hulp sal ontvang.”

Ná die toespraak het die sprekers ook aan ’n paneelbespreking deelgeneem, waar hulle vrae uit die gehoor beantwoord het.

Fundiswa Sotenjwa, wat die direkteur vir studenteondersteuning en sektorbetrokkenheid by die DHOO is, het die bedankings gedoen. Sy het studente aangemoedig om te praat en nie enige ongewenste gedrag te verduur wat as liefde voorgehou word nie.

Gesprekke oor ’n nasionale siekte is ’n goeie plek om te begin, maar daar is steeds belangrike vrae. Watter optrede moet geïmplementeer word om ’n samelewing te skep waar almal sonder vrees kan leef? Is besprekings en ’n bewustheid voldoende om GBV te stop?

Kom ons staan saam en doen tydens die sestien dae van aktivisme teen GBV wat op Sondag 25 November begin ’n beroep dat alle vorms van geweld teen vroue gestaak word.

...

Prof Daryl Balia, die adjunk-visekanselier vir inligtingstegnologie en Potchefstroomkampusbedrywighede, verwelkom die gaste en sprekers.

GBV

Nomvula Chasakara, die voorsitter van die Studente-kampusraad van die Potchefstroomkampus, praat namens die studente van die NWU.

GBV

Priscilla Lehoko, hoof van die Vuselela-TBOO-kollege, praat oor die program vir burgerlike opvoeding en gesondheidsvaardighede wat onlangs bekendgestel is.

GBV

Die hoofspreker, Buti Manamela, adjunkminister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, spreek die gehoor toe.

Submitted on Mon, 11/20/2023 - 09:14