Vyftien maande gelede het die ondenkbare plaasgevind. In ’n insident van sulke boosaardigheid, sulke disrespek en wreedheid is Carla Mӧller se lewe onherroeplik verander.
Sy is verkrag, maar as gevolg van die niegewelddadige aard van die insident, is sy afgeraai om ’n formele klag te lê. Volgens haar is sy nie toegelaat dat haar saak deur wetstoepassers aangehoor word nie – hulle het geweier om te luister en geregtigheid kon nie geskied nie.
“Ná die voorval was ek baie verward en ongemaklik, en ek het geweet iets is verkeerd. Ek het talle kere nee gesê vir seks. Dis wie ek is, ek is verkrag. Ek het gedink verkragting vind slegs plaas deur iemand wat jy nie ken nie en in onveilige omgewings. Maar dit was iemand wat ek geken het. Ek het ’n hulplyn gebel en ek het met ’n maatskaplike werker gaan praat, wat bevestig het dat ek verkrag is. Ek sien steeds ’n maatskaplike werker op ’n weeklikse basis en ’n psigiater op ’n maandelikse basis. Ek het ook al tyd in ’n psigiatriese hospitaal deurgebring,” verduidelik die 20-jarige van Bloemfontein.
In die nadraai van die gebeure het sy ’n enkele doel voor oë.
“My doel is dat enigeen wat so iets ervaar, moet weet dat dit wel verkragting was, en dat dit nie hulle skuld is nie. Die manier waarop my saak deur diegene in ons regstelsel hanteer is, het my laat voel dat dit as gevolg van my vroeëre optrede steeds my skuld is, maar niemand moet ooit twyfel oor wat hulle deurgemaak het nie. Hulle is verkrag, hulle het oorleef en die polisie moes dit op dieselfde wyse as ’n gewelddadige verkragting hanteer het. ‘Nee’ beteken ‘nee’, wat nie instemming is nie. My saak is hanteer op grond van veronderstelde instemming, wat dit nie was nie.”
Nou is hierdie student in Modekleinhandebestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU) vasbeslote dat ander slagoffers nie dieselfde sal oorkom nie. Hulle stemme moet gehoor word.
Sy het op 17 Mei die No Means No #itsnotjustoneofthosethings-veldtog met behulp van haar koshuis, Kasteel, op die Potchefstroomkampus begin. Deur No Means No T-hemde te verkoop en in die openbaar oor haar pynlike ervaring te praat, hoop sy om ’n bewustheid oor niegewelddadige verkragting te skep en om fondse in te samel om aan verkragtingskrisissentrums te skenk. Verdere winste sal aan die SJGD-gemeenskapsprojekte geskenk word.
Ek hoop om ten minste 200 T-hemde te verkoop. Ek wil ons studente aanraai om dit in plekke soos kroeë of klubs te dra, aangesien dit die plekke is waar studente dikwels seksueel geteister word, selfs sonder dat hulle daarvan bewus is. Die doel is om mense daaraan te herinner om op te let hoe hulle optree, asook om hulle vriende aanspreeklik te hou,” sê sy.
Sy kan getuig dat dit moed verg om te praat oor iets wat so lank al verswyg word.
“Dit was intimiderend om op ’n verhoog te klim en oor my ervaring te praat, maar die terugvoer was oorweldigend positief. Ons stories as slagoffers moet gehoor word. Ons kan dalk voel dat dit nie die moeite werd is om dit oor te vertel nie, maar dit is nie so nie. Hoe meer mense hoor wat ons te sê het, hoe minder sal insidente soos hierdie plaasvind. Verkragting, van watter aard ook al, moet nooit onder die mat ingevee word nie. Dit is waarna ek streef. Dit is die standpunt wat ek inneem.”
Want nou, en vir altyd, moet “nee” “nee” beteken.
Om ’n T-hemp te koop, volg hierdie skakel: