Navorsingsondersteuningskantoor neem aan ’n projek deel wat deur die Gates-stigting befonds word

Die Navorsingsondersteuningskantoor by die Noordwes-Universiteit (NWU) is een van slegs tien navorsingsondersteuningskantore in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) wat ’n toekenning gekry het en gekies is om deel te neem aan die projek wat deur Bill en Melinda Gates-stigting befonds word.

Dit vorm deel van die inisiatief van die Suider-Afrikaanse Navorsing en Innovasiebestuursvereniging (SARIMA).

Die doel van die loodsprojek is om ’n kapasiteitboumodel op te stel wat op die versterking van die kapasiteit van navorsingsondersteuningskantore (RSO’s) fokus. Wanneer die model voltooi is, kan dit potensieel in ander lande gedupliseer word – nie slegs in die streek nie, maar ook op die hele vasteland, sê prof Nnenesi Kgabi, die projekleier van die NWU se RSO.

“Ek is so opgewonde dat die NWU se RSO vir hierdie projek gekies is. Dit is ’n verligting om gekies te word ná ’n jaar lange keuringsproses, wat ingesluit het dat daar deelgeneem is aan verskillende opnames om die behoeftes en sterk punte van die navorsingskapasiteit en die Navorsingsondersteuningskantoor by die NWU te bepaal. Dit was beslis ’n geleentheid om met ons voorbeeld te lei wat die skryf van aansoeke vir toekennings betref,” sê prof Kgabi.

Die NWU se fokus vir die projek sal daarop gerig wees om sertifisering vir goeie finansiële toekenningspraktyk (GFGP) te kry ten einde die instelling in ’n beter posisie te plaas om navorsingstoekennings van befondsingsagentskappe regoor die wêreld te lok. “Ons doel is om die bestuur van ons navorsingsinfrastruktuur te verbeter deur ’n raamwerk vir die bestuur van navorsingsinfrastruktuur te ontwikkel. Hierdie raamwerk sal in twee van die NWU se fakulteite geloods word. Ons sal ook as deel van die infrastruktuurraamwerk reëls en strategieë vir navorsingsinfrastruktuur ontwikkel.”

Prof Kgabi sê hulle wil ook die sigbaarheid van hulle navorsingsondersteuning, hulle kapasiteit vir navorsingstoekenningsbestuur, die monitering en evaluering van navorsing, samewerking en netwerking verbeter.

Sy wys daarop dat fase 1 van die projek in 2023 begin het en deelname aan die keuringsproses behels het. Ons keuring is die tweede fase, wat in Januarie hierdie jaar afgeskop het, en besoeke van SARIMA vir die inisiëring van projekte ingesluit het.

Deelname aan die projek bied ook verskillende samewerkingsgeleenthede vir navorsingsondersteuningskantore. Dit sal onder andere leerbesoeke, opleiding en mentorskap insluit. Vir meer inligting oor SARIMA, besoek https://www.sarima.co.za/.

Nnenesi Kgabi

 Prof Nnenesi Kgabi

Submitted on Fri, 03/08/2024 - 09:05