Navorsing kyk na natuurlike oplossings vir blootstelling aan gifstowwe wat gesondheid benadeel

Prof Sithandiwe Mazibuko-Mbeje van die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs teruggekeer van sabbatsverlof in Ancona, Italië, waar sy baanbrekernavorsing in toksikologie gedoen het.

Prof Mazibuko-Mbeje het oor die verloop van sewe maande gedelf in ’n noodsaaklike studiegebied wat dikwels oor die hoof gesien word: die impak van gifstowwe op menslike gesondheid, veral in die ontwikkeling van siektes soos kanker en vetsug.

Haar navorsing het gefokus op die T2-toksien – ’n heersende gifstof – ’n byproduk van skimmel in ons omgewing wat beduidende gesondheidsimplikasies het. Prof Mazibuko-Mbeje het in vitro-modelle gebruik en die opsporing van gifstowwe in die menslike liggaam gedemonstreer. Sy het ook hulle nadelige uitwerking op mense se gesondheid getoon. Sy het veral gevind dat blootstelling aan die T2-toksien oksidatiewe stres en inflammasie in selle van die vel veroorsaak. Die gifstof word in koring, gort, rog, hawer en mielies aangetref. 

Die behandeling met natuurlike produkte soos die Moringa olifera-plant – hetsy op sy eie of in kombinasie met die anti-oksidant koënsiem Q10 (CoQ10) – het egter hierdie effek versag.

Sy het die potensiaal beklemtoon om Moringa olifera en CoQ10 in die ontwikkeling van nutraseutiese middels te kombineer om oksidatiewe stres en inflammasie te beveg, en so die risiko te verminder om verskeie nie-aansteeklike siektes, insluitende diabetes, te ontwikkel. Sy het egter gesê dat dit nodig is om verdere studie te doen wat diere en menslike proefpersone gebruik om hierdie bevindings te valideer.

Hierdie samewerkende navorsing met prof Luca Tiano se laboratorium in Italië beklemtoon die interdissiplinêre aard van die studie en die potensiaal daarvan vir toekomstige toepassings in gesondheidsorg. Dit is interdissiplinêr, en in die toekoms sal mense wat op plase woon en ’n hoë risiko van blootstelling het, vir die hoeveelheid gifstowwe getoets word, aangesien dit deur die vel opgeneem word. Hierdie studie sal op voorkomende maatreëls fokus, óf deur voedsel, of in ’n room wat aangewend word. Haar innoverende benadering tot toksikologiese navorsing bied belowende geleenthede om voorkomende en terapeutiese intervensies vir chroniese siektes te ontwikkel.

Benewens haar onlangse prestasies, sluit prof Mazibuko-Mbeje se loopbaan in dat sy in Januarie 2024 tot volle professor bevorder is en dat sy die rol van hoof van die vakgroep Biochemie op die Mahikengkampus beklee. Sy het in 2023 die toekenning as “Highly Promising Next Generation Researcher” van die NWU ontvang.

Een noemenswaardige samewerking was met een van haar studente, Khanyisani Ziqubu, wie se navorsing op bruin en wit vetweefsels fokus. Hierdie temperatuurregulerende organe het implikasies vir vetsug en tipe 2-diabetes, en bied potensiële insigte in hulle patofisiologie en biomerkers.

Prof Sithandiwe Mazibuko-Mbeje is ’n kundige in toksikologie.

Submitted on Fri, 04/19/2024 - 11:41