Navorsers word deel van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad

Die liefde wat twee navorsers van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (SADiLAR) vir taal het en hulle vasberadenheid om dit te bevorder en te ontwikkel, het ’n verdere inspuiting gekry met hulle insluiting op twee taalliggame van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT).

Mmasibidi Setaka, ’n navorser in digitale humaniora in Suid-Sotho, en Benito Trollip, 'n navorser in digitale humaniora in Afrikaans, is nou lede van die nasionale taalliggame (NTL’e) vir hulle onderskeie tale binne PanSAT – ’n eer waarvoor hulle albei baie dankbaar is.

Mmasibidi sowel as Benito is gebaseer by SADiLaR, wat op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) gehuisves word.

Die bevordering van taal is uiters belangrik wanneer daar op die nasionale taalliggame gedien word

Mmasibidi sê die visie van PanSAT is om meertaligheid te bevorder en ook om al Suid-Afrika se amptelike tale, insluitende die Khoi-, Nama- en San-tale, asook Suid-Afrikaanse Gebaretaal te ontwikkel.

“Dit is ’n baie groot eer. PanSAT is die bewaarder van taal. Ek voel dat hulle my potensiaal raakgesien het toe hulle my gekies het om op die Nasionale Taalliggaam vir Suid-Sotho (NTLS) te dien.” Volgens Mmasibidi, wat in 2022 by die NTLS begin werk het, sal haar werk hoofsaaklik sentreer om Suid-Sotho op verskillende maniere te bevorder.

Vir Benito, wat in Junie 2020 by PanSAT se Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA) aangesluit het, oorvleuel sy betrokkenheid by die liggaam en die begrip wat hy het vir hulle mandaat om tale te bevorder in ’n groot mate met die werk wat hy by SADiLaR doen. Hy sê om taal te bevorder en te ontwikkel, en veral sy navorsing op die gebied van Afrikaans, is ’n belangrike deel van sy werk as navorser.

Insluiting op die NTL’e lei nou tot nuwe geleenthede, nie net om netwerke te vorm nie, maar ook vir samewerkende navorsing. Mmasibidi en Benito is veral opgewonde oor die talle netwerkgeleenthede met geesgenote wat hulle waarskynlik nooit sou ontmoet het as hulle nie op die NTL’e gedien het nie.

Passie vir tale het op ’n jong ouderdom begin

Mmasibidi sê haar entoesiasme vir taal en taalontwikkeling het reeds op hoërskool begin, waar daar dikwels na haar verwys is as die Suid-Sotho-ghoeroe.

“Ek het nie op daardie stadium gedink dat my loopbaan in tale sou lê nie, maar nadat ek op universiteit Afrikatale as deel van my graad bestudeer het, het ’n hele nuwe wêreld vir my oopgegaan. Ek is deur my destydse dosent by Wits, dr Setshedi, aan menslike taaltegnologie en rekenaarlinguistiek bekend gestel. Van daar af het ek daarmee voortgegaan en kursusse by verskeie universiteite gevolg, en dit het uiteindelik tot my werk by SADiLaR gelei.”

Benito, wat aanvanklik regte aan die NWU studeer het en dit met sy taalstudies aangevul het, sê hy het besef dat ’n mens baie pret met taal kan hê. Sy dosent, prof Gerhard van Huyssteen, het hom in sy tweede jaar aangemoedig om taaldata te bestudeer en hoe dit voorgestel kan word op ’n wyse dat dit sin maak. “Ek noem dit die wiskunde van taal, en dit het sedertdien die fokus van my werk by SADiLaR geword, waar ons ondersoek doen na maniere waarop ons hulpbronne vir mense kan skep sodat hulle hulle navorsing daarop kan baseer.”

Sy rol op die subkomitee vir infrastruktuur en hulpbronne van die NTLA sluit in om ondersoek te doen oor die wyse waarop Afrikaanse hulpbronne aanlyn gevind kan word en waarom dit soms moeilik is.

Vir meer inligting oor PanSAT, besoek hulle webwerf (PanSALB), en vir inligting oor SADiLaR, besoek SADiLaR Home.

pansalb

Foto: Mmasibidi Setaka en Benito Trollip sê hulle span by SADiLaR is is trots daarop dat hulle by die NTL’e ingesluit is. As navorsers in digitale humaniora is hulle doelwit om die gebied van digitale humaniora en taaltegnologienavorsing in die land te ontwikkel.

Submitted on Mon, 07/25/2022 - 13:23