Navorsers het ’n belangrike stukkie van die legkaart in die vorming van massiewe sterre – ook bekend as protons (sterre met ’n massa wat ongeveer agt keer so groot of groter as die son is) – gevind. Bewyse is vir die heel eerste keer waargeneem en daar is vasgestel dat aangroeiskywe rondom vormende protosterre spiraalarmstrukture het.
Hierdie betekenisvolle ontdekking verander die wyse waarop wetenskaplikes na groot sterre kyk, en sal waarskynlik tot gevolg hê dat hulle in toekomstige studies spesifiek vir hierdie soort arms by die aangroeiskywe van massiewe sterre op die uitkyk sal wees.
Prof James Chibueze, ’n navorser by die Sentrum vir Ruimtenavorsing by die Noordwes-Universiteit (NWU), was deel van ’n internasionale groep wetenskaplikes wat aan die ontdekking gewerk het. Die span se artikel oor hulle bevindings is in die Nature Astronomy-vaktydskrif* gepubliseer.
Vae bewyse nou in fokus
“Daar kon dalk in ander studies baie vae bewyse gewees het van soortgelyke strukture by ander massiewe sterre, maar die bevindings van hierdie artikel bevat die duidelikste beeld wat ons oortuig dat die spiraalarmvormstruktuur in die binneste deel van die aangroeiskyf van massiewe protosterre gevind kan word,” sê hy.
“Diegene wat iets in die verlede waargeneem het en beplan om in die toekoms meer waarnemings uit te voer, kan nou die verklaring oorweeg van die waargenome eienskappe rondom die binneste skyf – die spiraalmorfologieë wat ons gesien het.”
Prof Chibueze sê in die afgelope dekade verstaan navorsers dat daar skywe rondom massiewe sterre is om hulle te help om materiaal wat vir hulle vorming nodig is, by te kry – soortgelyk aan die vorming van laemassasterre. In hierdie jongste ontdekking het hulle die spiraalarmstruktuur waargeneem. Die navorsers het met behulp van mikrogolfversterking deur die gestimuleerde uitsending (MASER) daarin geslaag om die spiraalarms rondom die binneste gedeelte van die skyf van die protosterre op te spoor.
Meer oor die studie
Prof Chibueze sê die internasionale span het navorsers van Suid-Afrika, Japan, Suid-Korea, Taiwan, Maleisië, Australië, Thailand, Oekraïne, Letland, Nigerië, Pole, Rusland, Italië, Kanada, Mexiko, Tanzanië, die Verenigde Koninkryk, China en die Verenigde State van Amerika ingesluit.
Werk aan die voorlegging is in 2018 en 2019 gedoen, en die waarnemings is talle keer oor agt maande in 2019 deur teleskope in Australië, Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Spanje, Nederland, Italië, Pole en die VSA gedoen. Die finale weergawe van die artikel is tussen 2020 en 2022 geskryf en wetenskaplike besprekings het gevolg.
Prof Chibueze het bygedra tot die skryf van die voorlegging en die definiëring van die saak vir die wetenskap wat nodig is om goedkeuring te verkry om die teleskoop te gebruik vir die deel van die studie wat plaaslik gedoen is. Hy het ook ’n bydrae tot die wetenskaplike besprekings van die resultate gelewer.
Floreer op baanbrekernavorsing
Prof Chibueze sê sy PhD-studies het daarop gefokus om die vroeë formatiewe stadiums van massiewe sterre te verstaan. Nou is dit ’n trotse oomblik om deel te wees van nog ’n stukkie van legkaart wat gevind is.
“Dit sal hopelik ander navorsers motiveer om voort te gaan om diep in die geheimenis van massiewe sterre te delf in ons soektog na ’n beter begrip van hierdie betekenisvolle hemelliggame.”
Prof Chibueze was al dikwels in die nuus vir sy bydraes tot astrofisika-/ruimtenavorsing. ’n Artikel oor een van die energiekste kosmiese gebeurtenisse wat van die aarde af sigbaar is, is in 2022 gepubliseer – ’n skokgolf wat oor 6,5 miljoen ligjaar gestrek het. Hy het ’n integrale rol gespeel in die verwerking van data van die nuwe MeerKAT-radioteleskoop wat gebruik is om hierdie verskynsel op te teken.
Hy is in 2021 ook in die vaktydskrif Nature aangehaal oor sy bydrae tot die ontdekking van stroke warm gas (spuitstrale) wat buig wanneer hulle met galaksieswerms se magneetvelde in aanraking kom.
Daarbenewens was prof Chibueze die enigste navorser uit Afrika wat ’n bydrae gelewer het tot die Japannese radio-astronomieprojek oor die baie lang basislyn-interferometrie-eksplorasie (VLBI-eksplorasie) van radio-astrometrie (VERA). Hierdie projek het bevind dat die Aarde vinniger beweeg as wat oorspronklik vermoed is en dat dit 2 000 ligjaar nader aan die gravitasiekolk in die middel van die Melkweg is as wat vroeër gemeen is.
*Lees die volledige artikel in die jongste uitgawe van die vaktydskrif Nature Astronomy hier.
Vir meer inligting of om ’n onderhoud te reël, stuur ’n e-pos aan prof James Chibueze by james.chibueze@nwu.ac.za.
Prof James Chibueze werk tans aan verskeie projekte in astrofisika en ruimtenavorsing.
Kunstenaarsvoorstelling: Die spiraalarmstrukture om die vorming van skywe van protosterre. Illustrasie: Charles Willmott en Ross Burns.