As jy gedink het jy het al aronskelke of varkore in al hulle pragtige vorms, groottes en kleure gesien, wag daar ’n verrassing op jou: Twee nuwe spesies is onlangs ontdek in die Sekoekoeniland-bosveld, waar hierdie plante in al hulle glorie in die natuur groei.
Navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) het, in samewerking met ’n navorser van die Universiteit van Pretoria (UP), splinternuwe spesies van hierdie indrukwekkende inheemse groep plante – wat nou verwant is aan die varkore – ontdek en wetenskaplik beskryf. Die ontdekking van twee spesies is veral merkwaardig, want tot hierdie jaar was nog net een bosveldaronskelk (Stylochaeton natalense) in Suid-Afrika bekend.
Die navorsingspan het nou Stylochaeton glaucophyllum (blou bosveld-varkoor) en Stylochaeton sekhukhuniense (Sekoekoeniland-bosveld-varkoor) by hierdie genus van aronskelke gevoeg.
Die plaaslike span bestaan uit prof Stefan Siebert en dr Madeleen Struwig van die NWU se kampusse in Potchefstroom en Mahikeng onderskeidelik, en me Tshireletso le Roux, ’n botaniestudent van die NWU se Mahikengkampus. Die vierde spanlid is prof Braam van Wyk, ’n afgetrede navorser van die UP, wat ook ’n NWU-alumnus en die ontvanger van ’n 2015 NWU Alumni-uitnemendheidstoekenning is.
Wat die samewerking tussen die navorsers selfs meer spesiaal maak, is dat dit op die oordrag van kennis oor talle jare gegrond is. Prof Van Wyk was prof Siebert se studieleier tydens sy PhD-studies, prof Siebert was op sy beurt dr Struwig se studieleier, en me Le Roux is dr Struwig se student.
Grawe ’n bietjie dieper en ontdek hulle vrugte
Prof Siebert sê die ontdekking van die twee spesies het plaasgevind tydens geo-ekologiese navorsing oor ultramafiese (metaalryke) rotse rondom Steelpoort en Sekoekoeniland. Die term geo-ekologies verwys na interdissiplinêre en multidissiplinêre wetenskap wat geowetenskap met lewenswetenskap integreer.
“Die spesies is voorheen misgekyk, aangesien hulle blomme tweederdes onder die grond is en hulle blare vir die ongeoefende oog soos dié van die gewone spesie lyk, sê dr Struwig.
Hy verduidelik dat hulle altyd en maklik verwar word met die gewone algemene bosveldaronskelk, wat sy infloressensie en vrugte 5 cm tot 10 cm bokant die grond dra. In die aronskelkfamilie is die pragtige “blom”, soos die gewilde kallalelie, in werklikheid ’n infloressensie wat bestaan uit klein blommetjies wat dig saamgepak is op ’n stingel (genaamd ’n blomkolf) en toegedraai is (of in die geval van die nuwe spesie weggesteek word) deur ’n blaaragtige, gekleurde struktuur genaamd ’n blomskede.
Hierdie pasontdekte spesies is anders omdat hulle baie kleiner is as die bekende spesie en hulle vrugte is amper heeltemal onder die grond begrawe. Die plante groei ook in strawwe omgewings van metaalryke, rotsagtige grond, wat volgens prof Siebert kan verduidelik waarom hulle kleiner is.
Taksonomiese navorsing oor die verloop van verskeie jare het die spanne se aanvanklike waarnemings bewys dat dit inderdaad nuwe spesies is en nie variasies van die algemeen-bekende spesie nie.
“As ’n mens daaraan dink dat ’n genus nog altyd net een spesie in Suid-Afrika gehad het en dat dit nou drie lede het, is dit nie net ’n baie groot ontdekking nie, maar ook ’n aanduiding van die geweldige verskuilde plantdiversiteit van Suid-Afrika,” sê prof Siebert.
Wat aronskelke betref, bewys hierdie ontdekking dat dit net die begin vir die span is. Hulle het gedurende hierdie jaar ook twee verdere spesies van bosveldaronskelke met ondergrondse vrugte in die Barberton-streek ontdek. Hulle doen tans daaroor navorsing voordat hulle dit amptelik as nuwe spesies kan verklaar. Dit kan dalk die getal bosveldaronskelkspesies in Suid-Afrika van een tot vyf verhoog.
“Ons glo dat daar baie meer is om oor hierdie plante te ontdek en ons is opgewonde oor die nuwe navorsing wat hierdie ontdekking vir ons moontlik gemaak het,” sluit prof Siebert af.
Klik hier die eerste gepubliseerde artikel oor die aronskelke te lees
Figuur 3: Die pasontdekte spesies van aronskelke is Stylochaeton glaucophyllum en Stylochaeton sekhukhuniense. Hierdie foto’s toon die struktuur van die plant se infloressensie, wat sy stingel, steel, skutblare en blomme is. Alle foto’s: © 2023 Magnolia Press, CC BY-SA 4.0.
Figuur 4: Die Stylochaeton glaucophyllum se vorms en rangskikking van sy dele. Dit toon die plant met volwasse vrugte onder die grond tot waar dit hoofsaaklik ondergronds gedra word. Alle foto’s: © 2023 Magnolia Press, CC BY-SA 4.0.
Figuur 7: Die Stylochaeton sekhukhuniense se morfologie van blare en infloressensie van die basale deel van die blare tot waar die infloressensies vanaf die plant en grond verwyder is en vanaf die basale dele skoongemaak is. Alle foto’s: © 2023 Magnolia Press, CC BY-SA 4.0.
*Kliek hier vir ’n volledige en wetenskaplike beskrywing van elke figuur, besoek
Die lede van die navorsingspan wat die ontdekking van die splinternuwe spesies van bosveldaronskelke gemaak het, is prof Stefan Siebert, dr Madeleen Struwig, prof Braam van Wyk en me Tshireletso le Roux.
dr Madeleen Struwig
Me Tshireletso le Roux.
prof Stefan Siebert
prof Braam van Wyk