Navorser sluit aan by topkardioloë op die SA Heart®-direksie

’n Navorser van die Noordwes-Universiteit (NWU) is gekies om op die direksie van die Suid-Afrikaanse Hartvereniging (SA Heart®) te dien. Hy sal ook op sy uitvoerende en belanghebberkomitees dien.

Prof Ruan Kruger van die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) gaan drie jaar lank op die direksie dien. “Dit is ’n baie groot eer. Die direksie van SA Heart® bestaan uit die beste kardioloë in Suid-Afrika en vir my as fisioloog om gekies te word, is ’n wonderlike mylpaal.”

Volgens prof Kruger sal sy betrokkenheid by die SA Heart®-direksie ook tot voordeel van die HART-span wees, aangesien dit groter sigbaarheid van die baanbrekerswerk wat die span doen op hierdie nasionale – en breër – platform sal verseker.

Hy is geen onbekende wat betref die ondersteuning van kardiovaskulêre navorsing nie – op internasionale sowel as nasionale gebied. Prof Kruger is ’n C1-gegradeerde navorser en is tans die voorsitter van die hipertensiekonsortium vir kinders van Suid-Afrika (Childhood Hypertension Consortium of South Africa, CHCSA). Hy was al ook die bekleër van die DWI-NNS SARChI-leerstoel in Vroeë Opsporing en Voorkoming van Kardiovaskulêre Siekte in Afrika, met ’n navorsingsfokus op die ontwikkeling van kardiovaskulêre siekte by kinders en jong volwassenes. Hy dien op die raad van die Suid-Afrikaanse Hipertensievereniging (SAHS) en die internasionale pediatriese hipertensievereniging (IPHA), en het ook onder andere ’n genootskap by die Internasionale Vereniging vir Hipertensie (ISH).

Prof Kruger is ’n produktiewe navorser en ook die leier van verskeie pediatriese navorsingstudies in Suid-Afrika, insluitende die ExAMIN Youth SA-studie, en lewer ’n bydrae tot ’n bewustheid oor wêreldgesondheid en opvoedkundige veldtogte om hipertensie en kardiovaskulêre siekte vanaf ’n jong ouderdom af te voorkom. 

Meer oor SA Heart®

SA Heart® en sy geaffilieerdes is die wetenskaplike leiers in Suid-Afrika in die lewering van kardiovaskulêre gesondheidsorg, navorsing en opvoeding. 

Die Suid-Afrikaanse Hartvereniging het in September 1999 formeel tot stand gekom en het in 2016 ’n maatskappy sonder winsoogmerk – die Suid-Afrikaanse Hartvereniging MSW (South African Heart Association NPC), SA Heart® – geword.

Hulle lidmaatskap bestaan uit ’n verskeidenheid mediese vakkundiges, insluitende kardioloë vir volwassenes en kinders, chirurge, mediese tegnoloë, verpleegpersoneel en ander gesondheidsorgverskaffers. 

Die spesialebelangegroepe wat by SA Heart® geaffilieer is, sluit in die Pediatriese Hartvereniging van Suid-Afrika, die hartaritmie-vereniging van Suider-Afrika (Cardiac Arrhythmia Society of Southern Africa), die hartbeeldingvereniging van Suid-Afrika (Cardiac Imaging Society of South Africa), die Suid-Afrikaanse vereniging vir kardiovaskulêre intervensie (South African Society of Cardiovascular Intervention) asook die Interventional Society of Cath Lab Professionals, die vereniging vir hartversaking (Heart Failure Society of South Africa), die Suid-Afrikaanse vereniging vir kardionavorsing (South African Society of Cardiac Research) en die vereniging vir lipiede en aterosklerose van Suider-Afrika (Lipid and Atherosclerosis Society of Southern Africa).

Klik hier vir meer inligting oor SA Heart® se direksie.

Prof Ruan Kruger.

Lede van SA Heart® se direksie sluit in dr Martin Mpe, Maryna Wiesner, Mandi Fine, prof Nqoba Tsabedze, dr Tony Dalby, dr Eric Klug, dr Tim Pennel en prof Ruan Kruger.

Submitted on Thu, 11/16/2023 - 09:59