Navorser ondersoek energiesekerheid vir Suider-Afrika

Hoewel elektrisiteitsnutsmaatskappye in staatsbesit reeds lank die energieproduksie in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) beheer, kan groter betrokkenheid van die privaat sektor energiesekerheid regoor die substreek ’n hupstoot gee.

Die goeie nuus is dat die lidlande van die SAOG aktief beleggings in die energiesektor doen om stabiliteit te verseker en geleenthede vir privaatsektorbeleggings te skep. So sê prof Muhiya Lukamba, medeprofessor in publieke administrasie op die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU). 

Sy navorsing fokus op die Southern African Power Pool (SAPP), ’n elektrisiteitsmark in die streek wat deur die SAOG gestig is, en op die impak daarvan op energiesekerheid in die substreek.

Prof Lukamba sê energiesekerheid verwys na die beskikbaarheid van genoeg energie om aan die interne energievraag te voldoen. “In die SAOG het energiesekerheid ’n direkte invloed op ekonomiese groei, maatskaplike ontwikkeling en omgewingsvolhoubaarheid.” 

Die SAPP speel hier ’n uiters belangrike rol. Dit koördineer die beplanning en bedryf van die elektriese kragstelsel onder nutsdienste wat lede is, verskaf ’n forum vir oplossings vir die streek, en dien as platform vir lidlande om surpluselektrisiteit te verhandel wat deur hulle nasionale kragnutsmaatskappye opgewek word.

Prof Lukamba sê hoewel privaatsektormaatskappye wat in die SAOG-streek by elektrisiteitsopwekking betrokke is, nie in staat is om hulle energiesurplus deur die SAPP te bemark nie, sy navorsing die potensiële voordele en uitdagings ondersoek om deelname uit te brei om hierdie entiteite in te sluit.

As dit moet gebeur, is dit nodig om die struikelblokke, beperkings en regulatoriese raamwerke wat die volle deelname van privaatsektormaatskappye aan elektrisiteitsverhandeling verhinder, te identifiseer en te hanteer, sê hy.

Sy navorsing behels dat dokumentontledings gebruik word om data in te samel en om die studie se hoofnavorsingsvraag oor die rol van die privaat sektor en die impak van die energiepoel op energiesekerheid in die streek te hanteer. 

Hy ontleed spesifiek die finansiële verslae en elektrisiteitsverhandelingsvolumes in die kragpoel om die mededingendheid en invloed van die mark te evalueer.

Die ontleding het vier markte in die SAPP ondersoek:

  1. Die Forward Physical Market – Monthly (FPM-M): Hier word elektrisiteit op ’n maandelikse basis verhandel, met kontrakte wat vir toekomstige lewering bedoel is.
  2. Die Forward Physical Market – Weekly: Dit is soortgelyk aan die FPM-M, maar met kontrakte wat op ’n weeklikse basis aangegaan word.
  3. Die Day-Ahead Market: Hier word elektrisiteit gekoop en verkoop om die volgende dag gelewer te word.
  4. Die Intra-Day Market: Dit behels die verhandeling van elektrisiteit op dieselfde dag, wat voorsiening maak vir aanpassings wat op intydse vraag en aanbod gegrond is.

“Die bevindings van hierdie navorsing beklemtoon die belangrikheid van elektrisiteitshandel in die bevordering van energiesekerheid in die SAOG. Terwyl die teenwoordigheid van mededingende markte in die SAPP energiehandel in die gebied moontlik maak, dui die finansiële inkomste wat tot dusver gegenereer is dat daar groot ruimte vir verbetering is,” sê prof Lukamba.

“Dit is waarom dit so belangrik is om die struikelblokke uit die weg te ruim wat privaatsektormaatskappye verhinder om ten volle aan elektrisiteitsverhandeling deel te neem. Om energiesekerheid verder te bevorder, is dit noodsaaklik vir lidlande om die uitdagings te identifiseer en te hanteer wat privaatsektorentiteite ervaar wanneer hulle aan die SAPP wil deelneem. Verdere navorsing moet fokus op die daarstelling van doeltreffende strategieë om die potensiaal van verhandeling in elektrisiteit in die SAOG te optimaliseer.”

Prof Muhiya Lukamba.

Submitted on Wed, 07/31/2024 - 11:18