Waterbesoedeling is ’n beduidende omgewingskwessie met ’n verreikende impak op die samelewing. Dit is nie beperk tot plaaslike of streeksgrense nie, en word deur klimaatsverandering vererger, wat gesondheidsrisiko’s vir die mens tot gevolg het.
In die hantering van sulke geweldige risiko’s vir ons waterhulpbronne, het ons nou innovasie nodig – die soort van innovasie wat die Waternavorsingsgroep van die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU) toon.
Prof Victor Wepener, ’n kundige in ekologiese risikoberaming, het die uitdaging aangepak om doeltreffende maniere vir biologiese monitering te vind – met behulp van kunsmossels.
“Kunsmossels is toestelle wat besoedelstowwe kan opneem en ’n aanduiding gee van die vlakke van blootstelling aan hierdie besoedelstowwe in die omgewing. Ons het die mossels aangepas om in verskillende Suid-Afrikaanse wateromgewings te gebruik en hulle in groot hawens regoor die land en in Namibië geplaas.”
Laboratorium gee geboorte aan kunsmossels
Die kunsmossels word in die laboratorium vervaardig en bestaan uit ’n plastiekbuis wat klein glaskraletjies en ’n jellieagtige stof bevat. “Die jel is deurlatend, wat dit maklik maak vir metaalbesoedelstowwe om daardeur te beweeg en aan die glaskrale te bind,” sê hy.
Volgens prof Wepener het die navorsingspan die kunsmossels vir gebruik in varswateromgewings gevalideer, en op spesifieke problematiese metale soos platinum gefokus. ’n Groot projek is in die Rustenburg-gebied voltooi, waar die kunsmossels gebruik is om blootstelling van die wateromgewing aan platinum te bepaal.
Mossels wys problematiese metale uit
“Die vervaardigde mosseltoestelle word in houers geplaas. Dit word vir ’n tydperk van vier tot ses weke ongeveer een meter onder die wateroppervlak op ’n plek geplaas. Dan word dit uitgehaal en na die laboratorium teruggeneem,” sê prof Wepener.
In die laboratorium ontleed navorsers die glaskrale vir verskillende problematiese metale, soos kadmium en kwik, asook vir metale soos arseen en mangaan, wat natuurlik in mariene omgewings voorkom.
Dit het die span drie tot vier maande geneem om hierdie projek te voltooi, vanaf die vervaardiging van die mossels tot hulle plasing op die plekke, die blootstellingstydperk en die laboratoriumontleding.
Op pad na ’n volhoubare toekoms
Prof Wepener sê dit is noodsaaklik om ’n bewustheid te kweek oor die waarde daarvan om skoon waterbronne in stand te hou, veral in Afrika, waar waterbesoedeling deur verskillende uitdagings soos industrialisasie, landboupraktyke en die beperkte afdwinging van omgewingsregulasies aangevuur word.
Die NWU se Waternavorsingsgroep lewer deur sy navorsing ’n bydrae tot beter waterbestuur. Die werk met kunsmossels gee aan navorsers en hulpbronbestuurders ’n instrument vir monitering wat relatief goedkoop is en die gebruik van diere as biologiese aanwysers van metaalbesoedelingblootstelling verminder.
Die navorsing gee ook aandag aan ten minste vier van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsdoelwitte: goeie gesondheid en welstand (doelwit 3), skoon water en sanitasie (doelwit 6), lewe onder water (doelwit 14) en klimaataksie (doelwit 13).
Prof Victor Wepener wys waar die kunsmossels in die laboratorium gestoor word. Hy verduidelik dat sy biologiese biomonitering-navorsingsbenadering hom help om vas te stel of besoedelstowwe die omgewing beïnvloed het of sal beïnvloed.