Die hoë voorkoms van alkoholgebruik onder studente in hoër onderwys is ’n bekommernis vir openbare gesondheid. Dit is volgens ’n studie wat deur prof Miriam Moagi van die Skool vir Verpleegkunde by die Noordwes-Universiteit (NWU) uitgevoer is.
Prof Moagi het gekyk na bestaande bewyse om die alkoholmisbruik onder studente uit ’n vraag-verminderingsbenadering te hanteer. Die artikel spruit voort uit haar PhD, wat gebaseer is op die pilare van die Nasionale Dwelmmeesterplan (2013-2017). Die drie pilare is vraagvermindering, skadevermindering en aanbodvermindering.
Die doel is met ander woorde om uit te vind watter faktore kan help om die hoeveelheid alkohol wat studente verbruik, te verminder.
“Ons wil intervensies in plek stel wat die skade verminder wat alkohol aanrig, aangesien daar reeds ’n paar strategieë bestaan om die vraag daarna te verminder,” sê prof Moagi.
Die vraag na alkohol berus op intrapersoonlike faktore (die self) en die studente se verhoudings met die sosiale en fisiese omgewing.
Stres en impulsiewe gedrag kan groot dryfvere agter alkoholgebruik wees.
Impulsiwiteit speel ’n rol in die verwantskap tussen sielkundige ontsteltenis en alkoholmisbruik, sê sy.
“Intervensies wat gerig is op impulsiwiteit onder studente wat sielkundige ongemak ervaar, kan help om alkoholgebruik te voorkom of te verminder.”
Volgens die studie is studente met ’n groter risiko vir alkoholmisbruik dié met simptome van posttraumatiese stresversteuring en emosionele disregulering.
“Studente wat alkohol gebruik om kognitiewe en fisiologiese simptome van sosiale angs te hanteer en met emosiebeheer sukkel, is meer geneig om alkoholverwante probleme te ervaar.”
Sy voeg by dat wanneer simptome van sosiale angs geëvalueer en behandel word en opleiding in emosieregulering verskaf word, alkoholgebruik onder studente in stresvolle situasies voorkom kan word.
Enige intervensie om alkoholgebruik te verminder, moet ook interpersoonlike faktore – veral die invloed van familie en vriende – in ag neem. Sosiale norms, sosiale identiteit en die definiëring van rolle funksioneer op hierdie vlak en kan leefstyl- en gesondheidsorgkeuses beïnvloed.
“Familie speel ’n belangrike rol in die vorming van jongmense se ingesteldheid teenoor alkohol, en daar word voorgestel dat die portuurgroep mekaar op ’n soortgelyke wyse kan beïnvloed,” sluit prof Moagi af.
Prof Miriam Moagi