Natanya baan die weg vir entrepreneursuitnemendheid

Natanya Meyer is op ’n sending: om die weg te baan vir entrepreneurs van oraloor, hetsy dit deur onderrig, navorsing of mentorskap is, of in een van haar eie nuwe ondernemings.

As dosent in entrepreneurskap op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark glo Natanya dat ’n mens deur jou voorbeeld lei en as sodanig is sy die trotse eienaar van drie nuwe ondernemings, naamlik: Econ Solutions Town Planning Consultants, Perspampoen Art Gallery en New Leaf Landscaping.

Sy gaan in 2018 die universiteit op verskeie hoëvlak-bestuurskomitees verteenwoordig, insluitende dié van die Departement van Hoër Onderwys se Community of Practice (CoP) for Entrepreneurship Development in Higher Education (CoP), asook die Sakevrouevereniging van Suid-Afrika.

As NWU-alumna het Natanya haar voorgraadse sowel as nagraadse studies aan die kampus in Vanderbijlpark voltooi. Sy sal later in die jaar haar doktorstesis (in entrepreneurskap) vir eksaminering voorlê.  

’n Passie vir entrepreneurskap en die jeug

Natanya is nóú betrokke by studente-aktiwiteite van die NWU se bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (EDC), ’n entrepreneursentrum in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Dit is veral haar rol as die koördineerder van YEBO – die organisasie vir jong entrepreneurs (Young Entrepreneur Business Organisation) – waarin haar passie vir die volgende generasie van entrepreneurs gesien kan word. As mentor is haar doel om studente en jong gegradueerdes te motiveer om entrepreneurskap as lewensvatbare loopbaanopsie te oorweeg. Sy verduidelik dat die belangrikheid van entrepreneurskap in die Nasionale Ontwikkelingsplan vir Suid-Afrika onderskryf word, en dat dit ’n doeltreffende metode aanbied om die krisis van werkloosheid onder die jeug teë te werk.  

Haar onderrigfilosofie is gebou op die uitgangspunt dat ervaring die gaping tussen teorie praktyk behoort te oorbrug, en daarom sluit sy praktiese blootstelling aan werklike besigheidscenario’s by haar lesings in. As deel van haar assesseringsbeplanning nooi sy ook gereeld plaaslike sake-eienaars en lede van verskillende suksesvolle sakekamers om met haar studente oor onderwerpe soos sakeplanne en geïntegreerde veldtogte te praat.

Sy was in 2017 een van die dryfkragte agter die Goue Driehoek Sakekamer se geslaagde inisiatief om ’n sakekamer vir jongmense vir die Vanderbijlparkstreek te stig.

Natanya Meyer.

Submitted on Wed, 04/18/2018 - 12:33