Dit was so hittete of sy sierlike duik het veroorsaak dat sy vlerke geknip word. Hy lag nou nog half skaam wanneer hy daaraan terugdink. Dit was Maandag 27 Februarie in Potchefstroom tydens die Varsitybeker. Die Noordwes-Universiteit (NWU) Eagles het op die Fanie du Toit-sportterrein met Shimlas kragte gemeet, in wat uiteindelik op ʼn 63–16 drag slae vir die besoekers van Bloem sou uitloop. Net voor rustyd loop die bal teen die lyn af en beland in Naiden Jaarts se gretige hande. Dié vleuel doen wat alle drieëvrate doen. Hy trek sy ore plat, hou sy lyf vlakhaas en laat verdedigers in die lug gryp op sy pad doellyn toe. Hy kom maklik genoeg oor die kalkstreep, maar remme aanslaan vir hierdie sneltrein kom nie so maklik nie, en toe hy duik, duik hy so ampers bo-oor die doodlyn.
Die drie word toegeken, die telling is 30–9, maar daar word mooi vir hom vinger geswaai en gewaarsku dat hy in die toekoms eerder die bal moet plant as om soos ʼn padda te spring.
Nou skater die 22-jarige lekker. “Ek het bietjie moeilikheid daaroor gekry. Oom Mervyn Taylor (bestuurder van die NWU Rugbyinstituut) het vir my gesê volgende keer sit ek die bal neer. Dit was baie naby!”
Naiden is in Keimoes in die hart van die Noord-Kaap gebore. Keimoes, wat so warm soos die hel en so mooi soos die hemel is. Smaraggroen druiwepriële staan in sterk kontras met die droë, dorre vlaktes waar die Oranjerivier nie vloei nie. Dáár waar selfs die duiwel vir die son wegkruip. Van Keimoes af is hy Hoërskool Upington, en toe Potch toe. ʼn Uitvoerproduk soos die sultanas waarvoor sy kontrei so bekend is.
Want, by Hoërskool Upington vang hy die oog van afrigter Theuns Kotzé – beter bekend as “Worsie” tydens sy speeldae by die NWU Rugbyinstituut – en dié kontak sy alma mater se gesiene talentkenner, Hannes Esterhuizen. Kotzé het immers vir Namibië se nasionale span uitgedraf en ken ʼn ding of twee van rugby. Esterhuizen ken drie of vier dinge en het reeds Naiden op sy radar nadat hy hom in 2018 tydens ʼn seweskompetisie raakgesien het.
Net ʼn paar jaar later en Naiden vorm deel van die NWU Eagles se formidabele agterlyn wat die Varsitybeker-kroon ingepalm het.
“As ʼn span het ons al ʼn rukkie saam gespeel en ons het mekaar se swak en sterk punte geken. Coach Burger het ons ondersteun, en ons wou dieselfde vir hom doen,” vertel hy.
En nie hoe nie: Die Eagles klop Ikeys 27–25 in ʼn drukkoker-eindstryd wat sop van selfs die taaiste groente sou maak.
“Tydens die eindstryd was ons rustig, ons het die dag ingeneem. Ons het geweet wat wag, ons het geweet Ikeys sal nie gaan lê nie. Dit was ʼn groot prestasie en ʼn eer om hulle te kon wen.”
Koelkop gebly, dit is wat hulle gedoen het. Hy wat Naiden is, moes deur sy vertoning beloftes nakom: “Ek is ʼn talent gegee en ek is geseën om dit te kan uitleef.” Hy moes dankie sê: “Ek skuld my ouers (Nico en Rose) so baie. As dit moeilik gegaan het, het hulle my altyd bygestaan. Dan is daar ook my niggie (Nakitta) hier in Potch. As ek ’n bietjie sukkel, kan ek altyd by haar afpak.”
Wil hy iets byvoeg?
“Nee Oom,” sê hy. “Ek is rustig.”
Koelkop.
Naiden Jaarts