Die wydverwagte besluit deur die Monetêre Beleidskomitee (MBK) om die siklus vir die geleidelike verlaging van die rentekoers voort te sit deur die koers met nog 25 basispunte (bps) te verlaag, is die regte een.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool, sê die MBK se besluit op 29 Mei is ’n welkome erkenning van die veranderde ekonomiese omstandighede wat dit moontlik gemaak het.
“Hoewel die MBK erken dat daar steeds groter wêreldwye onsekerhede is wat die Suid-Afrikaanse ekonomie in die gesig staar, hulle van mening is dat dit tans ietwat meer stabiel is. Die meerderheidsiening van die MBK erken dus die ander faktore wat dit wenslik sowel as prakties gemaak het om op hierdie belangrike kruispunt in Suid-Afrika se besigheidsiklus die leenkoste vir besighede en verbruikers verder te verlaag.”
Volgens prof Parsons kan selfs ’n klein verlaging in die rentekoerse op hierdie stadium ’n groot positiewe impak op die nasionale ekonomiese gemoedstemming en op vertrouensvlakke hê.
Hy sê hoewel daar besef word dat monetêre beleid nie alleen vir Suid-Afrika se groeiprestasie verantwoordelik gehou kan word nie, laer leenkoste nietemin die beginstadium, hoewel swak, van Suid-Afrika se ekonomiese herstel ondersteun.
“Die MBK het inderdaad sy BBP-groeivooruitsig vir 2025 vanaf 1,7% na 1,2% verlaag, wat laer is as die 1,4%-groeiveronderstelling in die onlangse Begroting. Die verlaagde groeiprojeksie bly steeds ’n aanduiding van die mate waartoe die implementering van die broodnodige strukturele hervormings versnel moet word om Suid-Afrika se groeivooruitsigte op ’n basiese vlak te verbeter.”
Prof Parsons sê die debat rondom ’n toekomstige laer inflasiemikpunt van 3%, wat deur Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), uitgestippel is, bly betekenisvol vir toekomstige monetêre beleid.
“Die pad daarheen en die mikpunt moet noukeurig ontwerp word, en goeie kommunikasie en veral wye aanvaarding is nodig. Die SARB kan sy mikpunt om die verkeerde redes bereik, asook die teiken om die regte redes mis. Wêreldwye navorsing het bevestig dat dit noodsaaklik is dat die publiek die inflasiedoelwitte en maniere om dit te bereik, ondersteun. Die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, het onlangs weer eens beklemtoon dat politieke ondersteuning vir monetêre beleidshervorming, soos ’n laer inflasiemikpunt, opgebou moet word voordat dit geïmplementeer kan word,” het hy afgesluit.