’n Nuwe geslag kampvegters vir maatskaplike geregtigheid tree na vore

Om maatskaplike geregtigheid in ’n ongelyke wêreld te verkry, is dit noodsaaklik om ’n beter wêreld te skep. Ons het ’n nuwe geslag regsleiers nodig wat gereed is om die reg op al sy gebiede en dienste vir mense meer toeganklik te maak.

Dit het by die konferensie vir Suider-Afrikaanse regsdosente (Southern African Law Teachers’ Conference) duidelik geword dat ’n sterk sin vir verantwoordelikheid rakende maatskaplike geregtigheid op die skouers van die toekomstige lede van die regsgemeenskap gaan rus. Dit is veral waar wanneer kwessies soos die verligting van armoede, die stryd teen misdaad en korrupsie, die versekering van ’n volhoubare oorgang na hernubare energie om beurtkrag en aardverwarming aan bande te lê, en die beveiliging van die omgewing hanteer moet word.

Die nuwe kampvegters vir geregtigheid sal aanpasbaar moet wees, tegnologie omarm en aktiewe deelnemers moet wees wanneer nuwe geleenthede hulle voordoen.

Vorm regsleiers vir môre

“Dit is ’n nuwe, komplekse wêreld en ons moet aanpas, veral wat die opleiding van ons gegradueerdes betref. Die hoofsaak is dat ons almal ’n verantwoordelikheid het vir maatskaplike geregtigheid en die omgewing waarin ons onsself bevind,” sê advokaat René Koraan, een van die organiseerders van die konferensie.

Sy verduidelik dat een groot uitdaging vir regsdosente uit kunsmatige intelligensie (KI) na vore kom. Dit het ’n geweldige impak op onderrig en leer, en beïnvloed die wyse waarop studente leer, navorsing doen en met mekaar kommunikeer. “Dit kan ’n kragtige instrument wees om ’n uitmuntende kaliber student op die gebied van die regte te kweek.”

René sê die mag van KI om toegang tot inligting te verkry en dit te verwerk, kan ’n betekenisvolle rol in die akademiese loopbane van studente speel.

Die konferensie het spesialiste, lede van die regsgemeenskap en regsdosente van groot universiteite in Suider-Afrika byeengebring.

Onder die sprekers was die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, die regter-president van die Noordwes-afdeling van die Hoë Hof, regter Ronald Hendricks, en regter Bess Nkabinde.

Die Fakulteit Regte by die Noordwes-Universiteit (NWU) het die konferensie vanaf 15 tot 19 Januarie by die Sun City Konvensiesentrum aangebied.

“Hierdie jaar se tema: Law, Resilience and Social Justice in the 21st Century, was wyd genoeg om iets te bied vir elkeen wat dit bygewoon het,” sê René.

Die konferensie het sessies op verskillende regsgebiede aangebied, wat onder andere gewissel het van konstitusionele, gebruiklike, privaat, omgewings- en kuberreg tot regsopvoeding.

“Dit was ’n groot eer vir ons om hierdie konferensie aan te bied. Dit was ’n wonderlike geleentheid om ’n bydrae te lewer om ekonomiese, rasse- en maatskaplike geregtigheid vir almal te verkry,” sê dr Neo Morei, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Regte.

....

Die laaste hoofsessie het die invloed, toekoms en impak van kunsmatige intelligensie op onderrig en leer ondersoek. Van links is prof Puseletso Letete van die Universiteit van Johannesburg, prof Donrich Thaldar van die Universiteit van KwaZulu-Natal,  prof Daryl Balia, adjunk-visekanselier vir Inligtingstegnologie en Kampusbedrywighede (Potchefstroomkampus) by die NWU, en prof Wian Erlank, ook van die NWU.

Submitted on Thu, 03/07/2024 - 11:26