’n Kykie in die ekonomiese kristalbal vir 2023

Dit is moeilik om aan ’n tyd te dink toe daar so baie ekonomiese en politieke strominge was as wat Suid-Afrika nou ervaar waar ons aan die begin van 2023 staan. So sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU).

Volgens hom sal Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte vir 2023 breedweg bepaal word deur wêreldwye verwikkelinge, Eskom, en die verbintenisse van die regering om beleide te implementeer. Die interaksie tussen hierdie faktore sal die risiko’s en die geleenthede bepaal wat oor die volgende twaalf maande in ’n veranderende sosio-ekonomiese omgewing in Suid-Afrika en elders voorkom.

Die werklikheid is nietemin dat besighede en verbruikers in Suid-Afrika intussen nog ’n moeilike jaar tegemoetgaan, met sterk inflasie, stygende rentekoerse, hoë werkloosheidsyfers, beurtkrag en lae groei, wat alles op ’n uitdagende ekonomiese tydperk vorentoe dui. Die baie-beter-as-verwagte BBP-groeisyfers vir die derde kwartaal van 2022 het nietemin aan Suid-Afrika ’n sterker buffer vir voorspellings gegee, wat sommige van die negatiewe tendense kan absorbeer waarop 2022 geëindig het. En dit is waarskynlik dat die inflasiekoers – hoewel dit steeds onaanvaarbaar hoog is – in 2023 sal afplat, veral as brandstofpryse verder daal.

Sou ’n mens na die toekoms kyk, dui die verwagte louwarm prestasie van die drie vernaamste aandrywers van Suid-Afrika se ekonomiese aktiwiteit in 2023 – uitvoere, verbruikersbesteding en beleggings – daarop dat ekonomiese groei waarskynlik slegs ongeveer 1,4% gaan wees. Dit is laer as die bevolkingsgroei. Die grootste kritieke kwessie vir toekomstige Suid-Afrikaanse welvaart is egter dat werklik inklusiewe ekonomiese groei versnel moet word. Groei was te lank te laag, soos tallose opnames en amptelike beleidsverklarings beklemtoon het.

“Dus, hoewel die ekonomie tans sukkel om in ’n gekombineerde siklus van verhoogde wêreldwye en plaaslike ekonomiese onsekerheid momentum te verkry, is daar remedies wat Suid-Afrika se ekonomiese aanpasbaarheid kan versterk, en meer groei-ondersteuning in 2023 kan ontsluit. Indien president Cyril Ramaphosa spoedig sy sterker politieke mandaat in die vinnige implementering van progroeibeleide en -projekte kan omskakel, sal Suid-Afrika se vooruitsigte vir arbeidsryke groei in 2023 kan verbeter. En veral Eskom moet vinnig reggeruk word. Geen ekonomie kan groei en werk skep as chroniese energie-onsekerheid en wydverspreide ontwrigting voortduur nie,” sê prof Parsons.

Die bal is daarom in 2023 hoofsaaklik in Suid-Afrika se baan om die beleide en projekte te mobiliseer wat ware vordering in belangrike ekonomiese hervormings demonstreer en wat ’n positiewe verskil aan sy ekonomiese prestasie kan maak. Dit bly noodsaaklik om beleggersvertroue aan te moedig. Dit beleidstoets in 2023 sal die mate wees waartoe Suid-Afrika op ’n slim manier die wêreldwye teenwinde kan beperk en die plaaslike stertwinde ten beste kan benut, veral deur meer ingrypende en breër samewerking met die privaat sektor. Dit sal help om die heersende beleidsonsekerheid te verminder en vertroue te bevorder.

Submitted on Tue, 01/17/2023 - 10:42