Hulle floreer op adrenalien, opwinding en energie, maar dit is veral slaap – of die gebrek daaraan – wat die prestasie van atlete kan beïnvloed. ’n Navorser van die Noordwes-Universiteit (NWU) sê haar navorsing toon dat die handhawing van goeie slaapgewoontes, of slaaphigiëne soos dit genoem word, nie net ’n atleet se prestasie en uithouvermoë verbeter nie, maar ook hulle algehele welstand.
Dr Adéle Broodryk, self ’n begaafde padwedloopatleet wat vanjaar tweede gekom het in die vroue-afdeling van die Comrades Marathon en al in talle ander wedlope uitgeblink het, is ’n navorser by die navorsingsfokusarea Fisieke Aktiwiteit, Sport en Rekreasie (PhASRec). Haar navorsing ondersoek hoe sportprestasie deur verskillende hersteltegnieke, waarvan slaap een is, verbeter kan word.
“Slaap is ’n noodsaaklike deel van elke persoon se 24-uur-roetine, en tog is dit een aspek wat baie maklik verwaarloos word. Sonder genoeg slaap kan mense se batterye nie weer gelaai word nie en kan hulle nie op hulle beste funksioneer nie. Hierdie gebrek aan slaap kan ’n groot invloed op atlete hê.”
Verruil sokkeruitrustings vir pajamas
Die NWU se mansokkerspan het aan dr Broodryk se studie deelgeneem om die effek van die intervensies op hulle slaapgewoontes te bepaal.
Verskeie aspekte van die spelers se gedrag is gemoniteer en geëvalueer om uit te vind of daar enige voordele as gevolg van hierdie intervensies was of nie. Die navorsing is met behulp van ’n oorskakelontwerp gedoen. Dit het ’n week van toetse en ’n week sonder toetse behels, waarna die siklus herhaal is.
Hulle moes verskeie fisiese toetse vir oog-hand-koördinasie, spoed, vertikale spronge, asook aërobiese en anaërobiese toetse ondergaan. Hulle harttempo en emosionele welstand is ook gemoniteer.
Elke speler moes 10 uit 16 slaapintervensieriglyne kies om te volg. Dit het ingesluit dat selfone elke aand vanaf 19:00 op slaapmodus (verdoffing van die skerm) gestel moes word, tyd voor die TV en die selfoon vanaf 21:00 verminder moes word en selfone 30 minute voor slaaptyd nie meer gebruik mag word nie.
Deelnemers moes voor slaaptyd ’n warm stort of bad neem om hulle kernliggaamstemperatuur te verhoog, wat hulle in staat gestel het om hulle sluimermodus vinniger te bereik.
Dr Broodryk sê hulle het ook apparaat soos SleepSpec-brille gekry om vanaf 17:00 ná hulle sportoefeninge te dra. “Die brille maak hulle blootstelling aan skerp lig minder. Te veel lig onderdruk die natuurlike hormoon melatonien, wat nodig is vir ’n mens se slaap-wakker-siklus.”
Sy sê die sokkerspelers het oorproppies en oogmaskers ontvang om hulle te help om beter te slaap. Hulle is ook aangemoedig om vroeër in die dag ’n kort slapie (power nap) van 20 minute in te kry.
Dr Broodryk sê haar navorsing het bewys dat effektiewe slaap inderdaad ’n groot impak op atlete gehad het. “Dit was nie net op die veld dat hulle prestasie beter was en hulle makliker aan die eise van die spel kon voldoen nie, hulle daaglikse lewens het ook daarby gebaat. Daar is bevestig dat voldoende slaap ook ’n positiewe invloed op hulle studies, sportmanskap en ingesteldheid gehad het.”
Noudat haar werk met die manlike sokkerspelers afgehandel is, sê dr Broodryk dat die volgende deel van haar navorsing op die vroulike sokkerspelers en hulle ervaring van slaapintervensies gaan fokus.
“Ek beplan om die projek in die toekoms uit te brei om atlete van ander sportkodes by die NWU in te sluit. Op die ou end gaan dit alles daaroor dat ons atlete die beste sal wees wat hulle kan wees, en ook om maniere te vind om hulle toppresteerders te maak.”
Slaap my kindjie, slaap sag …
Hoe kan ’n mens die beste moontlike slaap kry? Dr Broodryk sê daar is verskeie riglyne vir goeie slaaphigiëne om die gehalte en hoeveelheid van slaap te verbeter. Dit sluit in dat ’n goeie slaaproetine in stand gehou word en wisselvallige slaapgewoontes vermy word. ’n Mens kan ook in slaapapparate of -tegnologie belê.
“Die belangrikste gewoonte is ’n vaste slaaproetine,” sê sy. “Jou liggaam het ’n sirkadiese ritme (’n 24-uur-siklus) wat deel van jou biologiese horlosie is. Hierdie ritme verskil by elkeen van ons, en dit is waarom sommige mense vroeg opstaan en ander nie. ’n Vaste slaaproetine verseker dat die horlosie nie ontwrig word nie en dat jy op jou beste kan funksioneer.”
Hoe kry ’n mens egter ’n goeie slaaproetine wanneer die eise van die werk en die gesin dikwels vereis dat jy laat opbly en minder slaap? Dr Broodryk se raad is om elke aand op dieselfde tyd bed toe te gaan. “Stel eerder jou wekker en staan vroeër op. Navorsing het getoon dat om laat bed toe te gaan ’n nadeliger uitwerking op jou dag het as wanneer jy vroeër wakker word.”
Skakel dus jou lig af en sit jou kop neer – jy weet jy het dit nodig, slaapkous.
Dr Adéle Broodryk,
The NWU’s male soccer teams participated in Dr Broodryk’s study to determine the effect of sleep hygiene interventions.