’n Gedeelde visie vir die toekoms: ’n betrokkenheid wat ’n nuwe era van samewerking inlui

Die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Myngesondheids- en -veiligheidsraad (Mine Health and Safety Council, MHSC) het op Maandag 18 Desember 2023 ’n gesprek gehou om samewerking en die ontwikkeling van ’n verhouding te bevorder wat vir albei partye tot voordeel kan wees.

Die vergadering het by die kantoor van die visekanselier in gebou F1 op die Potchefstroomkampus plaasgevind, met beide partye wat ingestem het om in Februarie 2024 ’n memorandum van verstandhouding (MvV) op ’n voorafooreengekome basis te onderteken.

Prof Liezel van Dyk, die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, het die gaste verwelkom namens prof Bismark Tyobeka, die NWU se hoof en visekanselier, en haar dank vir die vergadering uitgespreek. Sy het gesê: “Die NWU is verheug oor hierdie inisiatief, en die instelling sien daarna uit om met al die rolspelers in die mynbedryf saam te werk.”

Ter ondersteuning van haar het prof Awie Kotze, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, sy begeerte uitgespreek dat die NWU se werk ’n betekenisvolle wêreldwye invloed sal hê.

Fatheela Brovko, hoof navorsingsbedryfsbeampte by die MHSC, het oor die fokusareas van die organisasie gepraat. Sy het gesê dat die doel van die MSCH is om die negatiewe impak van mynaktiwiteite op gemeenskappe te beperk en om gesondheid en veiligheid in die mynbedryf te bevorder.

“Ons wil ons strategiese samewerkings versterk deur werksverwante siektes uit te skakel, meer op vroue in die mynbedryf te fokus, en ons navorsingsuitsette in programme vir mynwerkers om te skakel.”

Kyk na die toekoms

Prof Van Dyk het gesê dat die NWU beoog om binnekort ’n Skool vir Mynwese te open, en na prof Bismark Tyobeka se intreerede verwys. Sy het voortgegaan deur te sê dat die instelling tans besig is om mynprogramme te ontwikkel, soos ’n Nagraadse Diploma (PGDip) in Volhoubare Mynbou, wat in 2025 aanlyn aangebied sal word. Die bykomende programme wat in 2026 aanlyn beskikbaar sal wees, is ’n BSc in Omgewingswetenskappe met Mynbou en Myningenieurswese (insluitende ’n MIng en ’n PhD).

Prof Van Dyk het verder beklemtoon dat die NWU besig is om ’n NKR 5 Hoër Sertifikaat in Industriële Outomatisering (insluitende spesialisasie in Mynbou) bekend te stel, en in hierdie verband met die Fakulteit Opvoedkunde sal saamwerk. Die doel van hierdie skema is om hoërskoolleerders aan die mynbousektor bekend te stel terwyl hulle met die vereiste vaardighede toegerus word.

Prof Awie Kotze het gerapporteer dat die NWU tans aan planne werk om ’n Skool vir Verpleegkunde op die Vanderbijlparkkampus te bou. Die voltooiing daarvan is vir Julie 2024 geskeduleer. Hy het gesê dat die naam van die Skool vir Fisiologie, Voeding en

Verbruikerswetenskappe na die Skool vir Toegepaste Gesondheidswetenskappe verander gaan word. Die nuwe naam het op 1 Januarie 2024 in werking getree.

Ná die bespreking

Ná die besprekings was daar geleentheid om verder te gesels. Mnr Nkosinathi Tom, die direkteur van Strategiese Vennootskappe en Spesiale Projekte, het ’n toer van die kampus vir die verteenwoordigers van die MHSC gelei. Hulle het die volgende drie fakulteite besoek:

· Fakulteit Ingenieurswese (gebou G10 – Waterstof Suid-Afrika, HYSA)

· Fakulteit Gesondheidswetenskappe (gebou F10, G2 en G20)

· Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe (gebou G23)

Die ondertekening van die MvV sal voorts dien om ’n raamwerk tussen die NWU en die MHSC oor die volgende gebiede van gedeelde belange daar te stel:

· Myngesondheids- en -veiligheidsprojekte

· Kapasiteitbou

· Vaardigheidsontwikkeling van studente

· Sodanige ander gebiede van onderlinge voordeel soos vooraf deur beide partye ooreengekom

Die bepalings en voorwaardes van elke program of aktiwiteit, insluitende enige finansiële reëlings, sal in ’n skriftelike ooreenkoms uiteengesit word wat deur ’n gemagtigde verteenwoordiger van elke party onderteken moet word.

....

Mnr Nkosinathi Tom, die direkteur van Strategiese Vennootskappe en Spesiale Projekte, lei die kampustoer.

....

Verteenwoordigers van die MHSC ontvang ’n oorsig van die Eenheid van Omgewingswetenskappe en Bestuur by gebou G23A.

....

Afgevaardigdes van beide partye (die NWU en die MHSC) besoek die Fakulteit Ingenieurswese, gebou G10 (Waterstof Suid-Afrika) op die Potchefstroomkampus.

....

’n Groepfoto saam met die MHSC-afgevaardigdes wat die geskenke wys wat hulle van die NWU ontvang het.

Submitted on Fri, 01/26/2024 - 12:36