’n Fakulteit wat omgee stap die ekstra myl vir leerders

Graad 12-leerders is op die drumpel van volwassenheid en moet besluite vir hulle toekomstige loopbane en leefstyle neem. Die las van hierdie besluite en verwagtings van ouers, onderwysers en die samelewing kan oorweldigend wees.

Te midde van hulle stres en bekommernisse, kan hulle op mentors soos prof Fazel Freeks, medeprofessor en koördineerder vir gemeenskapsbetrokkenheid by die Fakulteit Teologie van die Noordwes-Universiteit (NWU) staatmaak.

Prof Freeks is die dryfkrag agter die “’n Fakulteit wat omgee”-inisiatief. Hy het dit in 2020 begin om graad 12-leerders met studiemetodes te help, terwyl hy ook motivering, inspirasie en loopbaanvoorligting bied. Hy het saam met die Promosa Sekondêre Skool en die Potchefstroom Sekondêre Skool gewerk.

“So baie leerders voltooi hulle matriek en is dan onseker oor watter loopbaankeuses hulle moet maak. Hulle kies dan op die ou end die verkeerde studiegebied hoofsaaklik as gevolg van druk van hulle ouers. Dit is ’n kwessie waaroor ek baie passievol is, en dit is iets waaraan ek aandag gee deur motiveringspraatjies oor loopbaanontwikkeling en loopbaankeuses vir hierdie leerders te gee.”

Kwessies soos middelmisbruik en geweld is bydraende faktore wat die jeug en hulle akademiese prestasie kniehalter. Die doelwit van hierdie inisiatief is ook om hulle op te voed wat sulke sake betref.

Brei die kring uit

Prof Freeks se visie vir hierdie inisiatief is om met ander fakulteite in die NWU saam te werk en om meer skole by hierdie inisiatief te betrek.

Sy passie vir die motivering van en mentorskap aan studente kom van ’n diepgaande oortuiging van die transformatiewe krag van leiding en aanmoediging. “Sedert ek hierdie inisiatief begin het, het ek die verskil en resultate gesien, en ek is buitengewoon trots op wat die leerders bereik het.”

By die Promosa Sekondêre Skool het 82 leerders die eksamen in 2023 geskryf, en 59 leerders het geslaag, wat ’n slaagsyfer van 71,9% is. By die Potchefstroom Sekondêre Skool het 84 leerders die eksamen geskryf en die slaagsyfer was 78,6%.

Prof Freeks spreek sy dankbaarheid uit teenoor die Fakulteit Teologie, die toegewyde skoolhoofde, mnr Jacobus Claassen en mev Veyonny Rochelle Ferris, asook die skole se onderwysers vir hulle leierskap en samewerking.

“In ’n wêreld waar jou impak dalk nie altyd onmiddellik sigbaar is nie, weet vir seker dat jy ’n verskil maak,” is sy boodskap aan hulle.

Prof Freeks voeg by dat hulle toewyding die toekoms vorm – een leerder op ’n keer. “Julle is werklik die hart van ons onderwysgemeenskap.”

Prof Fazel Ebrihiam Freeks.

Graad 12-leerders van Potchefstroom Sekondêre Skool ontvang hul merietesertifikate.

Graad 12-leerders van Promosa Sekondêre Skool.

Submitted on Mon, 04/08/2024 - 13:12