’n Blywende gedenkgeleentheid om ons personeel en studente te eer

Die drie kampusse van die Noordwes-Universiteit (NWU) het op Vrydag 3 November elkeen hulle jaarlikse gedenkdiens gehou ter ere van al die personeellede en studente wat gedurende die jaar oorlede is.

Twee-en-dertig studente en agt personeellede is oorlede – ’n getal wat die NWU glad nie verwag het nie.

“Hierdie individue was nie net ’n nommer of deel van die statistiek nie; hulle is mense wat ons lewens aangeraak het en ons is dankbaar dat hulle ons pad gekruis het,” sê prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir Beplanning en Kampusbedrywighede (Vanderbijlparkkampus).

In sy toespraak aan die gehoor het die NWU se hoof en visekanselier, prof Bismark Tyobeka, die studente aangemoedig om hulle drome binne hulle bereik te hou. Hy het gesê: “Julle reis is net so betekenisvol as julle uiteindelike bestemming; elke tree wat julle neem, bring julle nader aan ’n blinker toekoms. Terwyl julle julle pad deur die ingewikkelde terrein van julle akademiese en persoonlike ondernemings baan, hou ’n duidelike doel voor oë – stel ambisieuse doelwitte, en volhard deur enige struikelblokke wat kan voorkom.”

Prof Daryl Balia, die adjunk-visekanselier vir Inligtingstegnologie en Toegewysde Funksies en Kampusbedrywighede (Potchefstroomkampus), sê die gedenkdiens was ’n gepaste geleentheid om die lewens van die oorledenes te eer. Hy het bygevoeg: “Almal het ’n besef van wie hulle is, en ons afgestorwe personeel en studente het daardie identiteit met ons gedeel.”

In haar toespraak het prof Sonia Swanepoel, die adjunk-visekanselier vir Gemeenskapsbetrokkenheid en Kampusbedrywighede (Mahikengkampus), gesê dat dit teen die natuurlike verloop van die lewe is vir ’n ouer om ’n kind te begrawe.

“Terwyl ons oor ons kollegas en studente rou, bring ons hulde aan en vier hulle lewens, wat hulle ten volle geleef het. Hoewel dit vir ons voel of daardie lewens te kort was, bid ons vir die moed en krag om hierdie verlies te kan dra.”

Die NWU spreek sy innige meegevoel uit teenoor al die vriende en families van die oorledenes. Hulle sal in ons harte voortleef.

Klik hier om na die gedenktoespraak van die NWU se hoof en visekanselier, prof Tyobeka, te kyk.

....

Prof Sonia Swanepoel, adjunk-visekanselier vir Gemeenskapsbetrokkenheid en Kampusbedrywighede (Mahikengkampus), spreek die personeel en studente toe.

 

....

Prof Linda du Plessis, die adjunk-visekanselier vir Beplanning en Kampusbedrywighede (Vanderbijlparkkampus), deel haar meegevoel met diegene wat geliefdes verloor het.

 

......

Prof Daryl Balia, die adjunk-visekanselier vir Inligtingstegnologie en Kampusbedrywighede (Potchefstroomkampus), by die gedenkdiens op die Potchefstroomkampus.

 

 

....

Die NWU hoof en visekanselier, prof Bismark Tyobeka, lewer sy gedenkboodskap by die gedenkdiens op die Vanderbijlparkkampus.

 

Submitted on Wed, 11/08/2023 - 09:46