Musiekstudente vertrek op uitruilprogram na Swede

Vier musiekstudente van die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs op ’n vyf maande lange studiereis na Stockholm in Swede vertrek.

Dit is deel van die Linnaeus-Palme-uitruilprogram wat deur die Sweedse internasionale ontwikkelingsamewerkingsagentskap (Styrelsen för Internationellt Utvecklingssamarbete, SIDA) befonds word, met bykomende befondsing van die Hillensberg Trust.

Dit is die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie in 2020 dat NWU-studente kon reis en aan die uitruilprogram deelneem.

Volgens prof Santisa Viljoen van die Skool vir Musiek en Konservatorium aan die NWU gee die uitruilprogram aan studente die geleentheid om in ’n inter- en multikulturele omgewing op hulle teoretiese en praktiese leerervarings te fokus.

“Die Koninklike Kollege vir Musiek (Kungliga Musikhögskolan, KHM) in Stockholm se primêre doel is om kennis oor metodes vir multikulturele onderrig te verkry – metodes wat op die musiekonderwyser se opleidingsprogram gefokus kan word, asook vaardighede in die uitvoering en onderrig van Afrikamusiek,” sê prof Viljoen.

Die Hillensberg Trust is in die laat 1970’s gestig en die beurstoekenning het in 2017 tot stand gekom.  Sedert die ontstaan daarvan het studente aan die NWU beurse ter waarde van meer as R5 miljoen ontvang.

Die trust befonds studente wat ’n kwalifikasie op die gebied van medisyne, tegnologie, visuele kunste of musiek wil behaal. Dit is gemik op studente wat vir ’n tweede kwalifikasie ingeskryf is, asook op studente van die vermiste middelgroep – diegene wat nie universiteitsgelde kan bekostig nie, maar ook nie vir NSFAS-befondsing kwalifiseer nie.

Celeste Rossouw, senior spesialis in belanghebberverhoudinge aan die NWU, was by die lughawe om die opgewonde studente ’n goeie reis toe te wens vir hierdie unieke ervaring.

“Die NWU is uiters dankbaar teenoor die Hillensberg Trust vir die befondsing en die finansiële ondersteuning aan die studente tydens hulle verblyf oorsee, en ons hoop om vir nog baie jare wat voorlê met die vennootskap te kan voortgaan,” sê Rossouw.

........

ʼn Unieke ervaring ... hierdie musiekstudente van die NWU is op pad na Stockholm in Swede om aan ʼn uitruilprogram deel te neem. Hulle is van links Sonja Viviers, Zandile Madlala, Hava-ja-toivo Carels en Jessica van Rooyen.

Submitted on Wed, 09/28/2022 - 10:35