Moeilike tye het doeltreffende oplossings nodig om landbougroei te verseker

Suid-Afrika is op die rand van ’n resessie, en die voortgesette verbrokkeling van semistaatsinstellings soos Eskom en Transnet is besig om die land se ekonomiese probleme te vererger. Een van die talle sektore wat lamgelê word, is ook een van die belangrikstes, naamlik landbou.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is vas van plan om oplossings te bied vir die probleme wat ons landbousektor in die gesig staar. Daar is verskeie inisiatiewe aan die gang, soos die memorandum van verstandhouding tussen die universiteit en die Noordwes Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling (wat die Landboukollege Potchefstroom en die Taung Landboukollege verteenwoordig), wat onlangs onderteken is, en wat ’n raamwerk vir samewerking wil bied.

“’n Gesonde, florerende landbousektor is van die uiterste belang vir die huidige en toekomstige welvaart van die land,” sê prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU.

“Voedselsekerheid, of liewer voedselonsekerheid, is ’n wêreldwye probleem. Die NWU se Fakulteit vir Natuur- en Landbouwetenskappe het nasionaal- en internasionaal-gegradeerde navorsers wat saam met belanghebbers regoor die land werk om die landbou- en landbouverwerkingsektor te help om geleenthede vir voedselproduksie, en die stoor en verspreiding daarvan, te optimaliseer.”

Wat tot die dilemma bydra, is dat die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad (SAVR) sê dat Suid-Afrika ’n ernstige tekort aan professionele veeartse het, gedeeltelik omdat daar min instellings is wat volle opleiding vir veeartse bied.

Tyobeka verduidelik soos volg: “Volgens die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad het die getal geregistreerde veeartse in Suid-Afrika van 3 718 in 2020 tot 3 483 in 2021 afgeneem. Dit is na bewering die rede waarom ons op veeartse van buurlande moet staatmaak. Natuurlik is hierdie situasie ’n bedreiging vir ons voedselsekerheid en -produksie. Dit is egter ’n geleentheid vir ons om die groei van ons dieregesondheidprogramme te ondersoek en om ’n Skool vir Veeartsenykunde daar te stel wat Noordwes, die Noord-Kaap, die Vrystaat en dele van Gauteng kan bedien.”

Tyobeka voorsien dat die universiteit se vennootskappe met die landbousektor van krag tot krag sal gaan: “Namens myself en die NWU wil ek die landbousektor bedank vir die onontbeerlike diens wat hulle aan die land lewer. Julle arbeid en moeite, julle toewyding en kundigheid is die lewensaar van ons land. Julle kan altyd op ons ondersteuning staatmaak.”

Submitted on Fri, 03/17/2023 - 12:24