Moedertale skakel in by Colombia-besoek

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het met die Colombiaanse ambassade en die agbare ambassadeur Maria Del Rosario Mina-Rojas saamgewerk om op 27 November die kultureel verrykende gebeurtenis Mother tongue: A multilingual dialogue on building identity, dignity and empowerment in Potchefstroom aan te bied.

Prof Bismark Tyobeka, prinsipaal en vise-kanselier van die NWU het gesê: “Ons het kulturele uitruilgeleenthede ondersoek asook samewerkingsgeleenthede oor taalkwessies, inheemse kennissisteme en meer met die agbare ambassadeur en haar land. Die dag was verryk deur die aangrypende vertoning van die Colombiaanse kulturele musiekgroep, Kombilesa-Mi, Ons is dankbaar vir hierdie betekenisvolle konneksies.”

“Ons is werklik verheug om die vele insigte wat ons ten opsigte van meertaligheid gemeen het, die belangrikheid van taal en identiteit, taal en verbintenis, asook taal en gemeenskap, te vier as maniere waarop ons saam aan die postkoloniale omgewing wat ons in Suid-Afrika en in Colombia geërf het, kan bou,” sê prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer by die NWU.

“Ons is hier omdat ons met die universiteit wil skakel en ons ervarings met mekaar wil deel,” sê die agbare ambassadeur Mina-Rojas. Sy het ook gesê hoe opgewonde sy is oor die talle toekomstige moontlikhede wat hierdie samewerking inhou. “Ons het gekom om ons kultuur, ons taal en ons ervarings te deel.”

Die Colombiaanse ambassade het ook die NWU se Potchefstroomkampus in Augustus besoek toe die agbare ambassadeur Mina-Rojas gepraat het oor wanopvattings ten opsigte van die rol wat gender in die samelewing speel.

Die hoofstad van Colombia, Bogotá, en Suid-Afrika se grootste stad, Johannesburg, is dalk 11 440 km van mekaar, maar gemeenskaplikheid ken geen grense nie en hierdie produktiewe verhouding sal voortgaan om ’n groot hoeveelheid belonings te lewer.

...

...

Submitted on Fri, 12/01/2023 - 10:44