Moderne simulasielaboratorium verryk ervaring vir Farmasiestudente

Die Skool vir Farmasie het ’n baie moderne simulasiegerief op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) bekend gestel.  

Die simulasielaboratorium vir die produksie van soliede mondelikse doseervorms (SODF’s), of tablette, is amptelik op 1 Augustus bekendgestel.  Dit sal die opvoedingservaring van Farmasiestudente bevorder en verryk deur aan hulle praktiese blootstelling aan algemene farmaseutiese vervaardigingsprosesse te gee.   

Skooldirekteur prof Jan Steenekamp sê die werk aan die nuwe gerief het in November 2022 begin. ’n Multidissiplinêre span van NWU-personeel en spesialiste van buite het aan die ontwerp daarvan saamgewerk, insluitende spesialiste en ingenieurs vir lugbeheer, gesondheids- en veiligheidsbeamptes, ’n konstruksiespan wat deur konstruksie-ingenieurs gelei is, kundiges in huidige goeievervaardigingspraktyke (cGMP’s), multimediaspesialiste en akademiese personeel.   

Die konstruksie het in November 2023 gevolg en is vroeër hierdie jaar voltooi.  

Gerief gee praktiese opleiding ’n hupstoot  

Die praktiese-opleidingsbenadering deur hierdie gerief vorm deel van die Farmaseutika-modules en oorbrug die gaping tussen teoretiese kennis en die praktiese toepassing daarvan in die farmaseutiese vervaardigingsektor,” sê prof Steenekamp.  

Die gerief het ’n skoon, moderne ontwerp, met ekstra veiligheids- en lenigeprosesvloei-kenmerke, wat die belyning met huidige cGMP’s beklemtoon. Dit is ontwerp om 50 studente gelyktydig te akkommodeer, insluitende studente met fisieke gestremdhede, sonder om veiligheidsmaatreëls in te boet.   

Die gerief is ook met verskillende pre-formuleringsproduksie- en toetsinstrumente vir gehaltebeheer (QC) toegerus.  Die Skool vir Farmasie aan die NWU is tans die enigste Farmasieskool wat ’n navorsings- en ontwikkelings- roterende tabletpers van Natoli het wat met navorsings- en ontwikkelingsagteware toegerus is.  Die sagteware maak dit moontlik om data intyds en tydens die proses te verkry.     

“Hierdie multimiljoen rand se finansiële belegging van die NWU is die bewys van die universiteit se deurlopende verbintenis om opleiding vir Farmasiestudente te verskaf waarvan die gehalte verseker is,” sluit prof Steenekamp af.  

....

Tydens die viering van die opening van die gerief is, van links, prof Marius Brits, prof Jan Steenekamp, prof Sandra van Dyk, dr (honoris causa) Jannie Oosthuizen en prof Joe Viljoen. 

....

Baanbrekertoerusting sal studente in staat stel om algemene farmaseutiese vervaardigingsprosesse te ervaar. 

....

Die simulasielaboratorium vir die produksie van soliede mondelikse doseervorms (SODF’s) is amptelik op 1 Augustus 2024 deur die internasionaal-erkende farmaseutiese sakeleier en NWU-alumnus dr (honoris causa) Jannie Oosthuizen geopen. Jannie het op 2 Augustus ’n eredoktorsgraad van die NWU ontvang.  Van links is prof Jan Steenekamp, direkteur van die Skool vir Farmasie, prof Sandra van Dyk en dr Jannie Oosthuizen. 

 

 

 

Submitted on Thu, 08/22/2024 - 13:49