Die Suid-Afrikaanse strafstelsel het gefaal, en as gevolg daarvan is misdaad buite beheer. Dit is die harde en ongemaklike werklikheid wat die samelewing moet trotseer, en die land se kwellende misdaadstatistiek getuig daarvan.
Een rede daarvoor is die gebrek aan rehabilitasiegeleenthede wat vir oortreders beskikbaar is. Die bekoring daarvan om weer die ou weë te bewandel, kan té aanloklik wees, maar daar is ook ’n fundamentele wanbegrip van die gesistematiseerde struikelblokke wat misdadigers moet hanteer wanneer hulle weer die samelewing betree.
“Suid-Afrika het ’n baie swak rekord wat dit betref, nie net omdat vorige oortreders geen werkgeleenthede het wanneer hulle hul straf uitgedien het nie, maar ook ten opsigte van die wrede toestande van stigmatisering wat op hulle wag,” verduidelik die konflikkriminoloog dr Casper Lӧtter, ’n postdoktorale navorsingsgenoot by die Noordwes-Universiteit (NWU).
Volgens hom bestuur alle kulture misdaad deur dit as ’n skande te beskou, maar hy noem dat die VSA en Suid-Afrika ’n besonder wrede en stigmatiserende kultuur van skande het.
“Ons stigmatiseer, diskrimineer en marginaliseer gewoonlik oortreders in die hoofstroomkultuur. As gevolg daarvan sal vorige oortreders vir hierdie skande wegkruip deur kriminele subkulture uit te soek en hulleself so in ’n lewe van misdaad toespin.
“Dit is dus geen wonder dat Suid-Afrika een van die hoogste koerse van residivisme, of terugvalling, ter wêreld het nie. Toestande in die VSA het ’n bietjie beter geword met die bekendstelling van die First Step Act, die feit dat gevangenisse daar vorige oortreders in diens neem en ’n algemene bewustheid van en ook aktivisme het teen wat as die gevangenis-industriële kompleks bekend staan,” sê dr Lӧtter. (Die First Step Act maak onder andere gebruik van rehabilitasie-aansporings om vroeër vrylating moontlik te maak.)
Dr Lӧtter stel voor dat die Departement van Korrektiewe Dienste na die Nordiese nasies moet kyk, waar gesamentlike pogings aangewend word om in die basiese menslike behoeftes van vorige oortreders te voorsien om hulle van toekomstige misdaad te ontmoedig.
“Die Departement van Korrektiewe Dienste kan ook ’n verskil maak deur te wys dat vorige oortreders indiensneembaar is deur self geskikte kandidate uit vorige oortreders in diens te neem.”
Hy stel ook ’n ander oplossing voor: “Suid-Afrika se kwaai stigmatisering en kultuur van beskaming, ’n hoë werkloosheidskoers en die feit dat tronkstraf ons primêre vonnis is, is ons vernaamste probleme. Een manier om ’n verskil te maak in ons kultuur van stigmatisering en beskaming, is om stigmatisering ’n haatmisdaad te maak, met beduidende siviele en kriminele strawwe wat daaraan gekoppel word.
“Meer op die punt af, Suid-Afrikaners moet insien dat hierdie kultuur van beskaming gevaarlike implikasies vir openbare veiligheid en onvolhoubare misdaad- en terugvalkoerse inhou. Kriminele rekords kan volgens wet ná 10 jaar geskrap word deur aansoek te doen en ’n bedrag te betaal,” voeg hy by.
“My redenasie is dat dit nie naastenby genoeg is nie. In die lig van die beduidende struikelblokke wat vorige oortreders in die gesig staar om te hervestig, behoort rekords outomaties ná vyf jaar geskrap te word sonder dat iemand moet aansoek doen of ’n boete betaal. Suid-Afrikaners moet verstaan dat om vorige oortreders te help herintegreer, vir so ver as wat dit moontlik is, baie beslis in ons eie belang is, aangesien dit toekomstige misdaad kan voorkom.”
Wat ook al die regte oplossing is, dringende en deurslaggewende optrede word vereis om die golf van misdaad te keer.