Minister stel NWU-direkteur op Waternavorsingskommissie aan

Kundigheid is nodig om water – ’n noodsaaklike en skaars natuurlike hulpbron – te bewaar en te bestuur. Suid-Afrika is ’n relatief droë land en ervaar kritieke uitdagings wat onvoldoende water, probleme met watergehalte, onvoldoende infrastruktuur en inkonsekwente toegang insluit.

Die Waternavorsingskommissie (WNK) speel ’n integrale rol om die land in staat te stel om hierdie kwessies te hanteer.  Een van die NWU se eie mense tree nou na vore om haar deel in hierdie kommissie se belangrike werk te doen.

Die Minister van Water en Sanitasie, mnr Senzo Mchunu, het die NWU se direkteur vir Navorsingsondersteuning op die WRK se direksie aangestel. Prof Nnenesi Kgabi sal vir ’n termyn van vier jaar, wat in April 2023 begin het, op die raad dien. Sy is een van die 10 aanstellings op die raad.

“Ek voel geëerd en opgewonde om op die raad te dien. Hierdie aanstelling behoort navorsers in hoër onderwys aan te moedig om navorsing te doen wat ’n impak maak. Dit is belangrik om nie bloot ten opsigte van navorsingsuitsette te groei nie, maar ook om die impak van navorsing binne gemeenskappe en op ’n nasionale vlak te versterk.”

Sy sien daarna uit om ’n bydrae tot die entiteit se bestuur te lewer en advies te gee oor hoe om oplossings uit te brei vir waternavorsing en -innovasie wat tot voordeel van die nasie aangewend kan word. Prof Kgabi beskou haar werk op die WRK as ’n geleentheid om deur haar voorbeeld te lei. “Wanneer jy navorsers wil ondersteun, seker wil maak dat daar van hulle kennis geneem word en hulle wil aanmoedig om navorsing te doen wat ’n impak maak, moet jy voor stap.”

Prof Kgabi is ’n gesoute navorser in waterklimaatstudies en is ’n buitengewone professor in die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en  bestuur aan die NWU. Sy het voorheen die UNESCO-leerstoel oor Volhoubare Waternavorsing vir Klimaatsaanpassing in Droë Omgewings aan die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie beklee.

Haar bydraes tot die streeks- en internasionale navorsingsgemeenskap sluit in dat sy sedert November 2022 as voorsitter van die WaterNet-raad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) dien.

Haar ander bydraes sluit in dat sy deel is van uitvoerende en evalueringskomitees soos die Adviesraad vir die UNESCO-leerstoel oor wêreldbegrip vir volhoubaarheid (UNESCO Chair on Global Understanding for Sustainability), wat in Duitsland geleë is, die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NSTF), die Switserse Nasionale Wetenskapstigting in Switserland, en die Suider-Afrikaanse Navorsings- en Innovasiebestuursvereniging (SARIMA).

Prof Kgabi het ’n BScEd-, BScHons- en MSc-graad van die Universiteit van Noordwes, ’n MA van die Universiteit van Birmingham en ’n PhD van die NWU.  Sy is as ’n professionele natuurwetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Raad vir Natuurwetenskapsberoepe (SACNASP) geregistreer, en is ook ’n lid van die Waterinstituut van Suider-Afrika (WISA) en die Internasionale Vereniging van Hidrologiese Wetenskappe (IAHS).

Sy was die skrywer of medeskrywer van meer as 80 eweknie-beoordeelde publikasies en was die studieleier van ten minste 35 meestersgraad- en doktorale studente.

Meer oor die WNK

Die WNK is in 1971 gestig om kwessies van navorsingskoördinasie en strategiese rigting te hanteer om prioriteitsgebiede vir toepaslike tegnologie-oordrag te identifiseer.  
Die WNK se visie is om deur middel van wetenskap en tegnologie op alle vlakke hoogs ingeligte besluite oor water te neem en om innoverende wateroplossings vir Suid-Afrika en Afrika te verseker.

Vir meer inligting oor die Waternavorsingskommissie, besoek https://www.wrc.org.za/ of vind meer oor die SAOG WaterNet uit deur WaterNet (waternetonline.org) te besoek.

Prof Nnenesi Kgabi

Submitted on Thu, 05/04/2023 - 14:08