Minister lewer ’n realistiese en geloofwaardige fiskale boodskap in begrotingstoespraak

“Teen die agtergrond van moeilike wêreld- en plaaslike ekonomiese omstandighede, het die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, vandag ’n realistiese en geloofwaardige fiskale boodskap in die mediumtermynbegroting-beleidsverklaring (MTBBV) gelewer.”

In sy kommentaar op die MTBBV het prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), gesê dat Suid-Afrika se staatsfinansies nou op ’n baie meer volhoubare basis geplaas word.

Hy wys daarop dat uitgawes en inkomste albei goeienuusstories is wat help om die ekonomiese aanpasbaarheid te bou.

“Dit is in die hoofbegroting later in Februarie dat die evaluering van die algehele begroting meer noukeurigheid sal verkry. Die MTBBV moes nietemin in sy stapsgewyse driejaarbestedingsplan reeds ’n fyn balans tussen die onlangse sterk mededingende eise op die huidige fiskus handhaaf.  Ten spyte hiervan het die MTBBV daarin geslaag om in die hantering van Suid-Afrika se sosio-ekonomiese prioriteite binne die raamwerk van die fiskale dissipline omsigtigheid met buigsaamheid te kombineer.”

Volgens prof Parsons bied die 2022-MTBBV realistiese beleidskompromieë in die lig van die bestaande ekonomiese beperkings. “Daar was in die besonder welkome klem in die MTBBV op die verbintenis om infrastrukturele beleggings uit te brei; om die maatskaplike noodlenigingstoelae tot 2024 te verleng; en die feit dat verdere finansiële bystand aan ondernemings in staatsbesit soos Eskom en Transnet met sterk voorwaardes verskans sal word.”

Hy sê dit is ook bemoedigend dat daar op plaaslikeregeringsvlak groter kapasiteitsbou beoog word. Strukturele uitdagings vereis strukturele remedies, wat ’n baie groter rol vir die privaat sektor insluit om oplossings te vind, veral op die gebied van energie en vervoer.

Volgens prof Parsons lê die risiko’s vir die MTBBV se fiskale projeksies hoofsaaklik op drie vlakke. Eerstens, dat die ekonomiese groeivooruitsigte wat onderliggend aan die “minibegroting” is in die lig van die huidige wêreldwye en plaaslike teenwinde dalk té optimisties is. Die Nasionale Tesourie het ook teen negatiewe risiko’s ten opsigte van die groeivoorspellings gewaarsku. Tweedens kan ’n ander uitkoms vir die staatsloononderhandelings dalk die huidige fiskale projeksies omkrap. Derdens, ’n versuim om sekere sleutelverbintenisse in die MTBBV gestand te doen, sal die beleidsonsekerheid vererger en die vooruitsigte vir arbeidsryke groei demp.

 

“Hoe meer daar gesien word dat Suid-Afrika sy groeiprobleem regstel, hoe aantrekliker sal die land vir beleggers word.”

Submitted on Thu, 10/27/2022 - 09:18