Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring ontvang ’n “slaagpunt”

Dit is ’n slaagpunt. Dit is die gevolgtrekking van ’n paneel kundiges wat deur die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool ontvang is en gevra is of die 2022 Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring (MTBBV) ’n “druip-” of “slaagsyfer” moet ontvang.

Die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, het op Woensdag 26 Oktober die MTBBV gelewer en het oor die algemeen gunstige reaksie ontlok.

Tydens die Besigheidskool se PITSO-webinaar, getiteld “Die 2022 Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring – sekerheid oor waarheen ons op pad is, of gaan ons stadigaan nêrens?” (The 2022 Medium-Term Budget Policy Statement – certainty on where we are heading, or slowly going nowhere?), het die paneel onderwerpe bespreek soos watter lesse die onlangse ekonomiese en politieke drama in die VK vir Suid-Afrika se Mediumtermynbegroting-beleidsverklaringstoespraak ingehou het, hoe hierdie gebeure die moeilike keuses sal beïnvloed wat minister Enoch Godongwana moet hanteer, en wat die Minister van Finansies se finansiële prioriteite en strategieë behoort te wees.

Die bespreking is deur dr Piet Croucamp gemodereer en die paneel het uit dr Elna Moolman, hoof van die Suid-Afrikaanse makro-ekonomiese, vaste-inkomste- en geldeenheidnavorsing by Standard Bank, Khanyi Nzukuma, HUB van Glacier, Sanlam, Mamokete Lijani, senior handelaar kapitaalmarkte, ABSA, en professor Raymond Parsons, ’n ekonoom by die NWU Besigheidskool, bestaan.

Hier is hulle graderings uit 10:

• Dr Elna Moolman – 6,5

• Khanyi Nzukuma – 6

• Mamokete Lijani – 7

• Prof Raymond Parsons – 7

Submitted on Tue, 11/01/2022 - 16:19