Medelye met die afsterwe van FW de Klerk

Dit is met hartseer dat die Noordwes-Universiteit (NWU) verneem van oud-President FW de Klerk se afsterwe.

Wyle president De Klerk het as regstudent en later as kanselier van die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO, nou NWU) diep spore by die universiteit gelaat. Sy nalatenskap as staatsman, Nobel Vredeprys-wenner asook sy werk vir kultuur- en liefdadigheidsorganisies sal altyd onthou word. Hy was ’n ambassadeur vir die NWU en vir Suid-Afrika.

President de Klerk het in 1958 sy BA en LLB-grade cum laude by die PU vir CHO ontvang. Later is hy deur die universiteit met ’n eredoktorsgraad sowel as ’n spesiale alumnitoekenning vir sy rol om vrede en versoening in Suid-Afrika en wêreldwyd te bevorder, vereer.

Ons wil graag ons innige meegevoel aan sy familie en geliefdes betuig.

Submitted on Thu, 11/11/2021 - 14:12