MBA Winterstudieskool: ’n Week van leer en groei

Die MBA Winterstudieskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, wat op 24 tot 28 Julie by The Roots Lifestyle Centre in Potchefstroom gehou is, was ’n verrykende en transformerende ervaring vir almal wat daar was. Die week het afgeskop met ’n groep interessante gassprekers wat die kursusgangers geïnspireer en ingelig gelaat het.

Dag 1 het die toon vir die res van die week aangegee. Daar was prof Pieter Kruger se uiters waardevolle insigte oor hoe om ’n topprestasie te behaal en spanwerk te optimaliseer – in ’n mens se besigheids- asook jou persoonlike lewe. Mnr Thabang Mashia en me Naadirah Grinsel het gevolg met praktiese raad oor hoe om relevant te bly en ’n impak in ’n dinamiese wêreldomgewing te maak, en die visie om toekomstige sakeleiers te bemagtig, is beklemtoon. Dr Stavros Nicolaou en dr Terence Sibiya het onderskeidelik waardevolle leiding gegee oor hoe om strategiese handel in die wêreldmark van Afrika te bemeester en in die uiteenlopende Afrika-landskap sake te bedryf.

Dag 2 het voortgegaan om te beïndruk, met fase 1-studente wat by modules soos Navorsingsmetodologie, Tegnologiebestuur en Bestuursrekeningkunde betrokke geraak het. Terselfdertyd het fase 2-studente dit geniet om oor Entrepreneurskap, Internasionale Besigheidskwessies, Korporatiewe Beheer en die Maatskappyprojek te leer, wat vir hulle ’n begrip van werklike besigheidsuitdagings gegee het.

Leierskapsontwikkeling was regdeur dag 3 op die spyskaart en het studente bemagtig om positiewe veranderinge binne hulleself te skep. Die fase 1- sowel as fase 2-groep het baie by die werkswinkels en vakkundige lesings gebaat en het waardevolle insigte verkry oor hoe om onsekerhede te navigeer en stabiliteit in die sakewêreld in te bring.

Dag 4 was nog ’n hoogtepunt, met ’n boeiende kaggelgesprek (Fireside Chat), waar prof Ronnie Lotriet by ’n diepsinnige gesprek met Jacques Faul, professor in Praktyk, betrokke was. Die gesprek het om die krag van kultuur in die bereiking van organisatoriese sukses gewentel, en die belangrikheid daarvan om ’n positiewe en inklusiewe werksomgewing te koester.

Toe die laaste dag aanbreek, kon die studente oor ’n week van geweldige leer en groei nadink. Dr Kaizer Ndlovu het ’n praktiese sessie vir fase 1-studente gelei, en werklike gevallestudies oor tegnologiebestuur ontleed. Al die studente was ook positief oor ’n opwindende vooruitsig van toekomstige samewerkings wat gebore is uit besondere netwerkgeleenthede wat tydens die studieskool aangebied is.

Die Winterstudieskool het afgesluit met ’n gevoel van vervulling en afwagting op die toekomstige sukses van die studente. Hierdie aspirerende sakeleiers is met nuutgevonde kennis, perspektiewe en ’n ingesteldheid vir groei bewapen, en hulle is gereed om ’n betekenisvolle impak op hulle MBA-studies en in die toekoms te maak.

Die NWU Besigheidskool is trots op die prestasies van al die deelnemers aan hierdie insiggewende week. Wanneer hulle na hulle professionele lewens terugkeer, dra hulle die gereedskap en insigte saam wat hulle nodig het om in die immerveranderende besigheidslandskap te floreer.

....

Prof Ronnie Lotriet en Jacques Faul, professor in Praktyk, by die kaggelgesprek.

......

Die hoofdirekteur van die NWU Besigheidskool, dr Joseph Sekhampu, verwelkom die MBA-studente.

....

Betrokke MBA-studente tydens die openingtoespraak aan MBA-studente.

Submitted on Mon, 08/07/2023 - 12:48