MBA-somerstudieskool – tye is aan die verander!

’n Rekordgetal van nie minder nie as 190 MBA-studente het onlangs die heel eerste virtuele Somerstudieskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool bygewoon. Prof Jan van Romburgh, die pasaangestelde hoofdirekteur van die Besigheidskool, het die studente en kollegas verwelkom en die belangrikheid van ’n wedersydse verhouding gedurende 2021 beklemtoon.

Prof Van Romburgh het tydens sy welkomswoord gevra: “Waarom hierdie besigheidskool?” Hy het ’n paar sleutelfaktore geskets wat hierdie besigheidskool uniek maak. “Ons produseer ’n gehalte waarop elkeen kan trots wees, dit is ’n internasionaal-geakkrediteerde besigheidskool en ons kan trots wees daarop dat ons nie getalle najaag nie. Die jaar 2021 het ’n toename van 70% in ons getalle getoon, maar om kwaliteit van MBA’s deur kwantiteit te vervang, is nie vir ons skool belangrik nie. Dit is vir ons noodsaaklik om daardie persoonlike verhouding met ons studente te hê, met kwaliteit en persoonlike kontak wat van die uiterste belang is,” sê prof Van Romburgh.

Die NWU Besigheidskool was gelukkig om in 2020 as afsonderlike entiteit van die NWU se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe erken te word. Vanuit ’n bedryfsperspektief beteken dit dat die Besigheidskool as ’n fakulteit beskou word.

Die jaarlikse somerskool skep ’n omgewing vir MBA-studente om van die beste kundiges in die veld te leer. In hierdie veranderende tye maak mense al hoe meer op tegnologie staat – die virtuele somerskool maak dit moontlik om gasdosente van elke uithoek van die wêreld te bekom en so die ondenkbare moontlik te maak.

Die hoofsprekers vir die opening van die Somerstudieskool was dr Alistair Mokoena (die Landdirekteur van Google Suid-Afrika) en dr Willem Jacobs (HBB Barrick Gold Corp.).

Dr Mokoena het gepraat oor die doen van besigheid in die era van digitale onderbrekings. Hy het begin deur die MBA-studente as vandag se BBP’s en môre se leiers aan te spreek. “Die wêreld om ons het verander en ons het geen ander keuse as om aan te pas nie,” sê dr Mokoena.  Hy het verder na sakemodelle verwys wat die Covid-19-pandemie oorleef het. Dit was die aanlyn ondernemings met aflewering en e-handelvermoëns.

“Om jou digitale teenwoordigheid te verbeter, is belangrik in hierdie tye. Ons leef nie meer in ’n wêreld wat die mens teenoor die masjien plaas nie, maar waar die masjien as gevolg van die mens daar is. Tegnologie kan benut word om sakebedrywighede te verbeter en beter waarde vir kliënte te lewer. Die lewe gaan nie meer daaroor dat die grotes die kleintjies insluk nie, maar wel dat die vinniges die stadiges uitskakel. Om vinnig te raak in die sakewêreld beteken dat masjienleer en kunsmatige intelligensie soepel en rats moet word en dat ’n mens moet leer dat ’n organisasie uit sy foute leer. Verkry ’n ingesteldheid om te leer,” het dr Mokoena afgesluit.

Dr Jacobs se aanbieding was getitel “The Post-Covid Environment: Management Challenges in the Contours of the New Normal”. Hy het met dr Mokoena se stelling saamgestem dat tegnologie aangegryp moet word. Covid-19 het die swakhede beklemtoon van onbeheerde sosiale media en die vermoë daarvan om verwarring in ’n bevolking te veroorsaak. Dit toon dat aanspreeklike joernalistiek besig is om ’n stille dood te sterf en lê die liggelowigheid van mense en samelewings bloot.  Dr Jacobs het ’n vergelyking getref dat Jan Alleman se mening as gevolg van sosiale media en tegnologie dieselfde gewig as dié van wetenskaplikes dra. Mense deel hulle oningeligte menings op sosialemediaplatforms en voed so ’n monster. “Dit is in wese een van die vernaamste kwessies wat ons moet beantwoord – hoe gaan ons weer in beheer kom van die boodskap en waardes van ons samelewing?” vra dr Jacobs.

As daar een ding is wat ons uit Covid-19 kan leer, is dit die hele skending van die algemene reëls oor waarheid en eerlike kommunikasie en leierskap. “Die pandemie het wêreldwyd en plaaslik die krake in ons samelewing uitgewys, en ons moet daaroor nadink,” sê dr Jacobs.

Hy het sy aanbieding met ’n aanhaling van Booker T. Washington afgesluit: “Sukses moet gemeet word, nie soseer aan die posisie wat ’n mens in die lewe bereik het nie, maar aan die struikelblokke wat hy oorkom het.”

Tyd en gesondheid is twee van ons kosbaarste bates, en ons het baie min beheer daaroor. Die betekenis van die doen van besigheid in ’n immerveranderende wêreld en omgewing het duidelik uit die sprekers se aanbiedings geblyk.

Die somerskool het op ’n hoë noot afgeskop en die studente en dosente het baie gehad om oor na te dink.

Prof Von Romburgh het een laaste opmerking gehad. “Het die trein sonder jou weggetrek of was jy te laat vir die trein? Dit beskryf die beheer wat ons moet terugneem. Die NWU Besigheidskool kan aan studente al die geleenthede vir ’n MBA verskaf, maar die vraag is, wat doen jy met die geleenthede en wat doen jy om jouself van die res te onderskei.”

Submitted on Tue, 02/02/2021 - 11:35