Matige groeivooruitsig beklemtoon die dringendheid van groeigeoriënteerde beleide en projekte

Soos te wagte was, het die Monetêrebeleidskomitee (MBK) op 25 Januarie op ’n vierde agtereenvolgende vergadering (sy eerste vergadering van 2024) eenparig besluit om rentekoerse weer eens onveranderd te laat en dat dit dus nog langer hoog sal bly.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê die toon van die MBK se verklaring is steeds baie versigtig, aangesien hulle meen dat die stryd teen inflasie nog nie permanent gewen is nie.

“Die MBK het steeds stygrisiko’s vir inflasie in Suid-Afrika teen die agtergrond van wêreldwye onsekerhede, inflasionêre verwagtings en ’n sensitiwiteit vir die swakheid van die geldeenheid geplaas.”

Prof Parsons wys daarop dat daar nietemin positiewe ekonomiese data is wat die reële vooruitsig skep dat inflasie – wêreldwyd sowel as in Suid-Afrika – besig is om hierdie jaar af te plat en dalk minder ingegrawe kan wees.

Hy sê dat inflasie in Suid-Afrika binne die teikenband van 3% tot 6% van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) bly, met beide wesensinflasie en fabriekshekinflasie wat in Desember 2023 weer verder verlaag het. Die bepalende kerninflasietendens is steeds vir eers onveranderd op die 4,5%-middelpunt van die SARB se teiken.

“Die ekonomiese bewyse is dus dat – indien die ekonomie nou in oorstemming met voorspellings ontwikkel – Suid-Afrika die einde van die rentekoers-stygingsiklus bereik het. Leenkoste, hoewel steeds in die beperkende terrein, kan later in 2024 geleidelik begin afneem. Die tydsberekening vir die verlaging van rentekoerse hierdie jaar sal waarskynlik besluit word op die stadium wanneer die SARB oortuig is dat inflasionêre verwagtings stewig geanker is.”

Prof Parsons sê die begroting en die 2024-verkiesings lê nog voor. Volgens hom was dit onvermydelik dat die MBK die groeivooruitsig van sy bruto binnelandse produk (BBP) vir 2023 ietwat moes verlaag na 0,6% van sy vorige 0,8%, wat kan beteken dat die behoue groeivooruitsig van 1,2% in 2024 dalk ’n bietjie aan die optimistiese kant kan wees.

“’n Kommerwekkende onlangse negatiewe teken op die gebied van ekonomiese aktiwiteit was November 2023 se inkrimping van -0,4% in die saamgestelde leidende besigheidsiklusaanwyser vir die eerste keer sedert Mei 2023.”

Prof Parsons sê die matige groeivooruitsig beklemtoon weer eens die mate waartoe groeigeoriënteerde beleide en projekte, soos die oplossing van die vervoer- en energiebottelnekke, steeds dringend geïmplementeer moet word om hoër arbeidsrykegroeikoerse te bereik.

“Hierdie prioriteite bly noodsaaklik indien Suid-Afrika wil verseker dat die winde van agter die teenwinde in die vorming van die land se ekonomiese prestasie in 2024 sal troef. In reaksie op ’n vraag by die mediakonferensie het die SARB se president, Lesetja Kganyago, aangedui dat daar nou ’n proses aan die gang is om nie net die huidige vakature vir ’n adjunkpresident te vul nie, maar om ook te geleëner tyd die MBK vanaf sy huidige vyf lede na sewe lede te vergroot, soos dit in sy opdrag toegelaat word.”

Prof Parsons het afgesluit dat dit ’n positiewe ontwikkeling is, aangesien dit die MBK op sy volle sterkte sal plaas en meer in ooreenstemming met wêreldwye beste praktyk is.

Submitted on Mon, 01/29/2024 - 15:00